Vermiste man se lyk in dam op plaas gekry

Die lyk van ’n vermiste man van Khayamandi is verlede Vrydag in ’n dam op ’n plaas in Vlottenburg gekry nadat hy sowat twee weke gelede vermis geraak het.

Wyle Samuel AdamsFoto:


Die lyk van ’n vermiste man van Khayamandi is verlede Vrydag in ’n dam op ’n plaas in Vlottenburg gekry nadat hy sowat twee weke gelede vermis geraak het.

Samuel Adams (54) is Donderdag 4 Augustus as vermis aangemeld nadat hy die vorige dag (Woensdag 3 Augustus) werk toe is en nooit weer huis toe gekom het nie.

“Sy vrou het bekommerd geraak toe hy nie soos gewoonlik ná 16:00 by die huis van die werk af aangekom het nie. Hy het op ’n plaas in Devon Valley gewerk en gewoonlik ’n taxi ná werk huis toe geneem. Ons het hom die volgende dag as vermis aangemeld,” vertel Adams se suster, Lenie Kleinhans.

Kleinhans beskryf Adams as ’n saggeaarde en liefdevolle man. “Almal het hom geken en hy het met enigeen oor die weg gekom. Hy was vriendelik en vol grappe en was altyd reg om ander te help. Dit is steeds vir ons onwerklik dat hy dood is,” voeg sy by. Kleinhans sê hy het die laaste tyd gesukkel met sy geestesgesondheid en sou op 19 Augustus weer die dokter sien nadat hy die afgelope tyd stemme in sy kop gehoor en deurmekaar gepraat het.

“Ons het sy lyk Dinsdag aan sy klere uitgeken. Die lykskou­ing wys dat hy verdrink het. Dit is vir ons vreemd omdat hy ’n goeie swemmer was. Soveel vrae dwaal in ons koppe rond.”

Kleinhans en die familie bedank almal wat die laaste paar weke saam na Adams gesoek het.

Adams laat sy vrou en drie kinders agter.

You need to be Logged In to leave a comment.