Talle voornemende studente van die Universiteit Stellenbosch (US) soek na blyplek vir die 2025-akademiese jaar en die US waarsku studente om op hul hoede te wees.
Eikestadnuus het verlede week berig oor ’n pa en sy dogter wat in ’n swendelaar se strik getrap het en R5 000 kwyt is (“Housing scams are rife”, 8 Augtustus). By navraag het Martin Viljoen, ’n woordvoerder van die US, studente gemaan om die universiteit se hulpbronne vir pleksoek te benut.
“Ons beveel aan dat die universiteit se privaat geakkrediteerde akkommodasielys gebruik word wanneer studente verblyf wil bekom. Dit is die lys plekke beskikbaar wat deur die universiteit geverifieer word.
“Huurders moet daarop bedag wees om byvoorbeeld geen deposito of huur te betaal voordat die plek besigtig is nie. Indien die verhuurder geld vra om die plek te besigtig, is dit ’n onmiddellike rooi vlag,” sê hy.
Viljoen, in ooreenstemming met die Idasvallei- en Cloetesville- geakkrediteerde NFAS en private akkommodasie-werksgroep, waarsku dat geen betaling gemaak moet word voordat ’n kontrak onderteken is nie. Dié werksgroep, onder leiding van die voorsitter, Rashaad Cupido, is ’n groep verhuurders en huiseienaars.
Huurkontrakte moet al die nodige inligting van beide partye (verhuurder en huurder) bevat, wat geverifieer kan word.
“Maak seker dat die kontrak volledig deur die verhuurder ingevul is en verifieer die inligting. Verifieer ook die adres deur byvoorbeeld Google Maps te gebruik of om self die plek te besoek voordat ’n betaling gemaak word,” sê Viljoen.
Studente is ook welkom om die kantoor vir private akkommodasie van die universiteit te kontak om die verblyf te help verifieer.
- Rig ook navrae oor verblyf aan privateaccomm@sun.ac.za