Verpleegkundige, jy is onmisbaar

In ’n werksdag is “dankies” soms skaars, maar Wes-Kaap Gesondheid en Welstand sê graag dankie aan sy verpleegkundiges vir hul diens en sorg aan gemeenskappe.


In ’n werksdag is “dankies” soms skaars, maar Wes-Kaap Gesondheid en Welstand sê graag dankie aan sy verpleegkundiges vir hul diens en sorg aan gemeenskappe.

Vandag (12 Mei) is internasionale dag vir verpleegkundiges met die tema “Ons verpleegkundiges, ons toekoms”.

Gesondheidwerkers in die Kaapse Wynland (Breedevallei, Drakenstein, Langeberg, Stellenbosch en Witzenberg) bedien ’n gebied waarin meer as 950 000 mense woon.

“Baie mense vestig hulself ook deur die jaar tydelik in die omgewing vir werk,” sê Handri Liebenberg, direkteur van die Kaapse Wynland Distrik vir die Departement. “Verpleegkundiges dryf dienste op kliniek-vlak en is ook onmisbaar in hospitale, daghospitale en mobiele klinieke. Soms voel jy as verpleegkundige dalk nietig of jy dink mense kyk jou mis, maar weet dat jy ’n verskil maak en waardeer word. Maar, jy tél wel – vandag en elke dag.”

Verpleegkundiges se gedagtes oor 12 Mei en die beroep

Sr. Anthia Meyer van Groendal Kliniek is nog net drie jaar in diens van die departement, maar sy sê haar kennis is in hierdie kort rukkie baie verbreed. “Die geleenthede wat ek al gehad het om ervaring op verskillende gebiede op te doen en saam met verskillende rolspelers aan veldtogte te werk, is vir my ’n hoogtepunt,” sê sy. “Dit is belangrik dat ons die bydraes van verpleegkundiges vier!”

Sr. Anthia Meyer van die Groendal-kliniek is nog net drie jaar in diens van die departement, maar sy sê haar kennis is in hierdie kort rukkie baie verbreed.Foto:

Dit is vanjaar die verpleeg-assistent Priscilla Smith van die Stellenbosch-hospitaal se 28ste jaar as gesondheidswerker. Dit maak haar dag wanneer ’n pasiënt wat bedlêend was, op sy eie uit die hospitaal kan stap en wanneer sy kan deel in ouers se vreugde wanneer ’n baba gebore word. Hoewel haar werk dikwels beteken dat sy skofte werk en dikwels nie tuis is vir spesiale tye soos Kerstyd nie, is sy nie spyt dat sy hierdie beroep gekies het nie. “Ek doen my werk met liefde en ek gee baie om vir my pasiënte. Ek het ’n passie vir my werk en sal altyd die ekstra myl stap,” sê sy.

Stafverpleegster Jaqueline September van TC Newman Gemeenskapsdagsentrum sê sy dien haar gemeenskap die bykans 30 jaar wat sy ’n gesondheidswerker is, met trots. “Vir my is dit belangrik om voorligting aan pasiënte te gee sodat hulle hul lewens kan verbeter. Ek is baie trots daarop dat ek deel kon wees van die instelling van ’n afspraakstelsel by TC Newman sodat mense weet hoe laat om vir hul konsultasie te kom.”

Sy was verantwoordelik daarvoor om mense te help om die stelsel te verstaan. “Dit het tyd geneem, maar die gevolg was dat kliënte baie gedissiplineerd hul tydgebonde afsprake nakom,” sê sy. Uit haar perspektief is die viering van die internasionale dag vir verpleegkundiges tweedoelig – dit herinner mense aan die belangrike rol wat verpleegkundiges speel, en dit herinner verpleegkundiges aan die eed wat hulle afgelê het.

Internasionale dag vir verpleegkundiges lê Sr. Elisia Malgas van die Slanghoek- mobiele kliniek besonder na aan die hart. Sy glo elke verpleegkundige moet sy of haar beroep en die liefde en sorg wat daarmee gepaard gaan, vier. Sy het die leiding geneem met die reël van ’n geselligheid om verpleegpersoneel in die Breedevallei te vier. “Ek is sedert 2014 by die gesondheidsdepartement betrokke en is trots daarop om te sê ek het in 2018 as kliniese verpleegkundige gekwalifiseer, sodat ek holistiese sorg vir pasiënte kan gee.”

Sr. Cathleen Solomons (assistent-bestuurder van primêre gesondheidsorg in die Wellington-omgewing) sê niks is so bevredigend as wanneer ’n pasiënt gesond word nie. “En ook die klein woordjie ‘dankie’ wat jy kry,” sê sy. Sr. Solomons het vroeg in haar loopbaan besef sy wil deel van die bestuurspan wees sodat sy van daardie platform af ’n verandering vir pasiënte en personeel kon maak. Sy kyk nou terug op 44 jaar diens en is dankbaar dat sy haar doel kon bereik.

“Ek wil ’n beroep op alle verpleegsters doen om nooit hul passie te verloor nie – behandel almal met respek, liefde en menswaardigheid.”

Stafverpleegster Ansie Liebenberg van die Bergsig-kliniek sê verpleegsters is “besondere mense”.

“Al was vandag dalk die slegste dag nog, is jy môre terug op jou pos en ontvang jy elke pasiënt met die nodige sorg en respek.”

Kiebenberg was die afgelope 26 jaar deel van mobiele kliniekdienste in die Roberston-omgewing en sê hoewel pasiëntsorg altyd die prioriteit is, koester sy die vriendskapsbande wat sy met kollegas het. Sy tree in September af en haar boodskap aan ander verpleegkundiges is om “elke geleentheid wat jy het, te benut om ’n verskil in iemand se lewe te maak”.

In haar 43 jaar as verpleegkundige, het sr. Maureen Mentoor van die Rawsonville-kliniek dit die meeste geniet om in die kraamsaal te werk om ma’s tydens die kraamproses te help. “Nurses Day beteken baie vir my. Dit is die een dag waarop jy waardeer word vir die passie wat jy elke dag insit,” sê sy.

Stafverpleegster Patience Finiza van die Montagu-hospitaal sê haar ma, wyle sr. R. Jantjies, was die “Florence Nightingale” wat haar aangemoedig het om ’n verpleegkundige of maatskaplike werker te word. “Ek het as kind saam met haar Zolani toe gegaan, waar sy by mense se huise babas in die wêreld help bring het. Sy het selfs in die middel van die nag uitgegaan en met haar tas van huis tot huis gegaan,” onthou sy. “Verpleging is my roeping. Ek moedig ander kollegas aan om trots te wees op hul professie. Volg die eed wat ons aflê; beoefen dit daagliks.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.