Al die trofeewenners by vanjaar se Suid-Afrikaanse Kampioen Jongwyn-kompetisie, wat deur SA Nasionale Wynskouvereniging, in samewerking met Agri-Expo, aangebied word.


Vir die tweede keer in twee jaar het ’n gehoute Cabernet Sauvignon – dié keer van Diemersdal Landgoed in Durbanville – presteer deur die prestigeryke Genl. Smuts Trofee as algehele Suid-Afrikaanse Kampioen Jongwyn van 2024 te verower, nadat dit ook as die Beste Cabernet Sauvignon (gehout) in die land by die SA Jongwynskou aangewys is.

Die Diemersdal-landgoed het die Genl. Smuts Trofee reeds twee keer vantevore gewen – in 2013 met ’n Sauvignon Blanc en in 2022 met ’n gehoute Shiraz. Die trofee word sedert 1952 toegeken.

Perdeberg Wyne het die Pietman Hugo Trofee vir die wynmakery wat die meeste punte met sy vyf beste wyne behaal het, gewen. Dit is die eerste keer dat Perdeberg met dié trofee wegstap. Hulle het uitgeblink deur vier nasionale trofeë te wen, en is ook die enigste kelder wat meer as een nasionale trofee kon wen, naamlik die Perdeberg Chenin Blanc (gehout), Perdeberg Viognier (gehout – ander wit kultivar), Perdeberg Natuurlike Soet Witwyn en Perdeberg Malbec (gehout – ander rooi kultivar).

Hierdie jaarlikse skou vir wyne van die huidige oesjaar word deur die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), in samewerking met Agri-Expo, aangebied.

Die Genl. Smuts trofee is verlede jaar ook aan ’n Cabernet Sauvignon toegeken. Dis die sewende keer in die bestaan van dié 192-jarige kompetisie – die oudste van sy soort ter wêreld – dat ’n Cabernet Sauvignon dié groot toekenning losslaan, vanjaar as die 73ste wenner daarvan.

Wellington Wyne se Cabernet Sauvignon het verlede jaar die gesogte trofee gewen terwyl die Wildekrans-landgoed dit laas in 1996 vermag het, Muratie-landgoed in 1995, JP Bredell Wyne in 1993, Saxenburg-landgoed in 1991 en Klein Constantia-landgoed in 1988.

Die kompetisie se indrukwekkende versameling trofeë is Vrydag 23 Augustus by ? spogdinee wat deur AgriExpo in die Percheron Saal by die Elsenburg Landboukollege, in Stellenbosch aangebied is, aangekondig. Altesaam 48 wyne het Klaswenner-status behaal en 133 het Goue Medaljes ontvang.

Die totale inskrywings was vanjaar meer, soos verlede jaar, ’n duidelike aanduiding dat die oudste wynskou in Suid-Afrika verdere momentum kry. Die beoordelaars was dit eens dat die gehalte van die 2024-wyne puik was, ondanks ’n oesjaar wat vele uitdagings aan wynmakers gestel het weens die uitdagende klimaatstoestande tydens die groeiseisoen en parstyd.

Vanjaar se 1 387 inskrywings is deur 88 spesialis-beoordelaars op 14 panele in oënskou geneem. Die beoordeling het aan die einde van Julie in die Johann Graue-saal op Nederburg in Paarl oor ’n periode van vyf dae plaasgevind, waarna die kampioene in 17 klasse aangewys is, asook die twee trofeë vir beste wyn en beste produsent. Die spesialis-panele het uit vyf lede elk bestaan en ’n sesde leerling-proeër het by elke paneel aangesluit om opleiding te ontvang. Hul punte is nie in die uitslag bereken nie.

’n Spesiale bottelplakker is in 2013 ingestel om op die wenner van die Genl. Smuts Trofee se bottels te pryk en sodoende die algehele beste jongwyn van die jaar in die markplek te vertoon. Dít het daartoe gelei dat al hoe meer top trofeewenners in die jongste jare as sodanig gebotteleer is in plaas daarvan om hul “identiteit te verloor” deur verdere versnyding.

Die res van die SA-kampioene is:
  • Sauvignon Blanc: Stettyn Wine Cellar;
  • Chardonnay: De Wet Cellar, Chardonnay (gehout);
  • Sémillon: Cederberg Cellars;
  • Wit Versnitwyn: Badsberg Cellar, Chenin Blanc/Chardonnay (gehout);
  • Edellaatoeswyn: Van Loveren Family Vineyards;
  • Shiraz: Stellenbosch Hills, Shiraz (gehout);
  • Pinotage: Wellington Wines, Pinotage (gehout);
  • Merlot: Montagu Winery Merlot;
  • Rooi Versnitwyn: Botha Cellar Cabernet Sauv/Shiraz/Merlot/Pinotage/Durif/Ruby Cab (gehout);
  • Dessertwyn: Boplaas Estate, Hanepoot Jerepigo;
  • Muskadel: Aan de Doorns Winery, Rooi Muskadel Jeropigo; en
  • Kaapse Styl: Jakkalsvlei Vineyards.

Die Paarl- en Breedekloof/Worcester het die beste vertoning as wynstreke gelewer met vyf nasionale trofeë elk, gevolg deur Klein-Karoo (drie), Stellenbosch (twee) en Robertson en Cederberg (een elk).

Christo Pienaar, die voorsitter van die SA Jongwynskou, het gesê dat die gehalte van die jongwyne vanjaar besonder hoog is ondanks die vele uitdagings wat wynmakers moes oorkom. Verbruikers kan uitsien na kwaliteitwyne wat vanjaar gemaak is en geniet kan word wanneer hulle gebotteleer is.

“Dit is opmerklik dat die nasionale wenners van regoor die land se wynproduksiegebiede kom, sowel as van ’n verskeidenheid tipes wynmakerye. Ek wil graag al die kelders gelukwens met hul prestasies en almal vir hul deurlopende ondersteuning bedank,” het Pienaar gesê.

Die organiseerders het beklemtoon dat die SA Jongwynskou ruim deur die verskaffers aan die bedryf ondersteun word en die finansiële vennote van verlede jaar het hulle weer tot uitbou van die skou verbind.

Die vyf maatskappye betrokke is almal bekendes in die wynbedryf, naamlik Anchor Oenology, Enartis, Laffort, Nexus en Standard Bank. Hul hooggewaardeerde bydraes sal die blink toekoms van die Jongwynskou wat as “die juweel van die bedryf” bekendstaan, verseker.

Een wynmaker elk van Diemersdal en Perdeberg kan, as die wenners van die Genl. Smuts en Pietman Hugo Trofeë onderskeidelik, uitsien na ’n geborgde ses-daagse reis na die buiteland – danksy ’n bestaande vennootskap sedert 2019 tussen SANWSV en POREX. Dié wynmakers sal vanjaar die Simei-wynskou in Milaan en prominente wynmakerye in die Bolzano-gebied besoek.

You need to be Logged In to leave a comment.