Vervolg van bladsy 1
“Hy het wel om verskoning gevra, maar dit het meer soos ’n grap vir hom gelyk. Ek sal bly wees as hy permanent geskors word, want ek voel onveilig met sulke mense om my,” het Ndwayana bygevoeg.
Talle studenteorganisasies het Maandag by die universiteit betoog en geëis dat die oortreder geskors word.
De Villiers sê in die hantering van die voorval is beslissende tugstappe reeds Maandag geneem, insluitend die skorsing van die vermeende oortreder. “In ooreenstemming met die wet en bestuur van die universiteit is verdere ondersoek tans aan die gang vir ’n vinnige en finale uitkoms in die saak. Permanente uitsetting en/of strafregtelike aanklagte word nie uitgesluit van die moontlike beskikbare uitkomste op grond van die ondersoek se bevindings nie.”
Hy sê die US is daartoe verbind om die slagoffer van die voorval met toerusting en berading te ondersteun om te verseker dat sy akademiese vordering nie deur die voorval geraak word nie.
’n Ondersoek is ook aan die gang na ’n beweerde voorval wat Donderdag 12 Mei by die Law Dance plaasgevind het toe rassistiese opmerkings na bewering teenoor ’n vroulike student gemaak is.
“Universiteitsowerhede is in gesprek met individue, bywoners van die dans, fakulteitsleierskap en studenteverteenwoordigers om vas te stel wat die feite is, asook meer inligting oor die formele klagte deur die betrokke student. Owerhede het ook met die betrokke student vergader, terwyl sy ook bygestaan ??is in die proses om die saak by die Universiteit se gelykheidseenheid aan te meld. Die regsfakulteit sal ook verseker dat sy toegang tot die nodige beradingsdienste het.”
Hy sê ook die universiteit het kennis geneem van die openbare verklaring wat Dinsdag (17 Mei) deur die US- juridiese vereniging uitgereik is en sal direk met hulle in gesprek tree as ’n sleutelbelanghebbende in hierdie aangeleentheid.
“Die US-gemeenskap sal onwankelbaar voortgaan in sy pogings om ’n werkbare en volhoubare pad vorentoe te vind om te verseker dat die regte van almal op die kampus beskerm en bevorder word in die belang van die ontwikkeling en akademiese prestasie van ons jeug as ons nasie se toekomstige leiers.”
Hy voeg by die US se onwrikbare prioriteit is om ’n veilige en inklusiewe omgewing vir al sy studente te bied en om ’n verwelkomende en veilige studentegemeenskap, waar sosiale kohesie bevorder word om kwaliteit tersiêre onderwys vir almal te bied, te handhaaf.
“Die US veroordeel ten sterkste enige destruktiewe of diskriminerende gedrag wat die regte van enige student of lid van die gemeenskap van die universiteit skend. Rassisme of vooroordeel in enige vorm het geen plek by die US nie, en indien dit voorkom, sal dit in beginsel tot die volle omvang van die toepaslike wette en regulasies hanteer word.”
Nog betogings deur studenteorganisasies word hierdie week verwag.