Verskeie ongelukke en noue ontkomings van leerders het plaaslike inwoners genoodsaak om ’n versoekskrif op te stel om die kruising in Van Reede-weg te beveilig.
Onlangs is ’n 10-jarige leerder omgestamp nadat ’n motoris vermoedelik deur ’n rooi lig gery en die kind getref het. Die versoekskrif “Improve safety at pedestrian crossing in Van Reede Rd for Eikestad and Rhenish learners” is in Oktober begin om enige soortgelyke voorvalle te voorkom.
Die vierbaankruising is in die besige straat waar talle leerders van die Laerskool Rhenish en die Laerskool Eikestad heen en weer beweeg vir skool. Volgens Lisa le Roux weet sy van verskeie leerders wat byna omgestamp is omdat motoriste nie algemene padreëls volg nie.
“Daar is gereeld amperse ongelukke sowel as werklike ongelukke by die kruising. Oor die algemeen is die pad gevaarlik met motors wat in en uit Doornboschweg kom. Motoriste stop eenvoudig nie,” verduidelik sy.
Daan le Roux, wat die versoekskrif van stapel gestuur het, meen daar is fout met die ontwerp van die kruising wat dit moeilik maak vir motoriste om voetgangers, veral kinders, te sien die pad oorsteek.
Alex Hall, hoof van die Laerskool Rhenish, sê hoewel Van Reede-weg ’n pad met druk verkeer is, is die kruising by Doornboschweg en Van Reede ook ’n probleem. Die hoë volume verkeer asook nalatigheid van motoriste maak veral die strate om die verskeie skole in die buurt gevaarlik. Dit is juis hoekom die skool nie ’n skolierepatrollie het nie, verduidelik Hall. “Ons gebruik glad nie leerders [vir skolierpatrollie] nie aangesien ons glo dit sal onveilig vir kinders wees gegewe die hoë volume verkeer op dié paaie en die onverskillige gedrag van baie motoriste.”
Hall voeg by die pad is ’n uitdaging vir selfs munisipale wetstoepassers en skoolpersoneel en meen om die kinders aan dié kopseer bloot te stel, sal onverskillig wees. ’n Voorstel is om die kruising te verhoog, wat moontlik sal help dat motoriste gedwing word om hul spoed te verlaag. Dié hoër spoedbreker kan ook die sigbaarheid van die kruising verbeter.
Henk Meyer, die hoof van die Laerskool Eikestad, het by navraag gesê ’n verhoogde oorgang vir voetgangers en fietsryers sal gewis ’n positiewe verbetering wees. “Die veiligheid van ons kinders, ouers, die breër publiek, asook al die leerders in die naburige skole is natuurlik van kardinale belang. Ons is ongelooflik dankbaar vir OUTsurance en hul ‘OUTsurance Pointsmen’ en die ondersteuning wat hulle tans by die skole bied,” sê Meyer.
“Die geleentheid vir meer kinders en ouers om hierdie besige paaie veilig oor te steek, kan op so ’n wyse ook die verkeersdruk op die paaie verlig. Bykomende spoedhobbels om voertuie se spoed te verlaag en bestuurders vroegtydig te waarsku en bewus te maak van die oorgang, kan ook voordelig wees.”
Die hoop is dat die versoekskrif, wat verlede Dinsdag (3 Desember) reeds 725 handtekening gehad het, die Stellenbosch-munisipaliteit sal aanspoor om veranderings aan te bring.
Stuart Grobbelaar, ’n munisipale woordvoerder, het gesê hulle is bewus van die onlangse voorval. “Ons waardeer gemeenskap-insette en neem sulke sake ernstig op. Die inhoud van die versoekskrif sal deeglik hersien word en ons verkeersingenieurs sal dit noukeurig evalueer om die mees gepaste optrede te bepaal,” sê hy.
Grobbelaar voeg by die munisipaliteit is verbind tot die veiligheid van inwoners.