Vertroue in polisie kwyn, maar nuwe GPF wil help

In tye van nood en wanneer ’n misdryf gepleeg word, sal Stellenbossers eerder private sekuriteit as die polisie ontbied.


In tye van nood en wanneer ’n misdryf gepleeg word, sal Stellenbossers eerder private sekuriteit as die polisie ontbied.

Dit is van die bevindings van ’n groep besorgde inwoners wat streef om statistieke oor misdaad in te win. Die groep het met inwoners van onder meer Onderpapegaaiberg, Jamestown, Jonkershoek asook die dorpsgebied gesels. Volgens die bevindings voel inwoners oorwegend misdaad in die Stellenbosch-gebied het toegeneem.

Daarom was brig. Sandile Sonjani, bevelvoerder van die Stellenbosch-polisie, se pleidooi vir polisie-gemeenskapsamewerking by Dinsdag (29 Oktober) se gemeenskapspolisiërings­forum-verkiesing nie verbasend nie.

“Stellenbosch is die afgelope weke baie in die nuus – en nie vir goeie dinge nie. My hoop is daarom dat hierdie nuwe gemeenskapspolisiërings­forum (GPF) sal help om ’n nuwe weg te baan vir misdaadbekamping.”

Só het Sonjani aan die nuut verkose GPF-bestuur wat deur die rolspelers verkies is, gesê.

Cloetesville, wat Idasvallei insluit, het Saterdag (26 Oktober) sy nuwe GPF-bestuur vir die volgende vier jaar verkies. Die Cloetesville-polisie se bevelvoerder, lt.kol. Monique Fortuin, het ’n kort oorsig oor misdaad gegee.

Sy het verduidelik kontak-misdrywe – meestal moord en poging tot moord – is in die meeste gevalle bendeverwant.

’n Fokus van die plaaslike polisie is om die veiligheid van matrikulante gedurende die nasionale eindeksamen te verseker.

Terselfdertyd word vir die feesseisoen beplan en Fortuin meen daar is ’n jaarlikse verskynsel wat aangepak moet word. “Dit gebeur baie keer dat beskuldigdes in bendeverwante sake hierdie tyd van die jaar vrygelaat word.

“Dit het natuurlik ’n invloed op die misdaad in die feestyd en ons [as die polisie] kyk hierna,” het sy verduidelik.

Daar is ook goeie nuus van die Cloetesville-polisiekantoor wat onlangs 11 nuwe konstabels ryker geword het.

In die verkiesing in die Idasvallei-biblioteek, wat deur Nontsikelelo Maseko, ’n veldwerker van die Departement van Polisietoesig en Gemeenskapsveiligheid, behartig is, is André van der Westhuizen in sy afwesigheid as nuwe voorsitter verkies.

Volgens Bettie Nieuwoudt, die nuwe ondervoorsitter, het die vorige forum ’n goeie grondslag gelê om op voort te bou. Haar pleidooi aan die gemeenskap was egter om meer betrokke te raak by misdaadvoorkoming en om die GPF, en sodoende die polisie, se hand te versterk.

“Daar is ’n tekort aan polisiehulp­bronne. Dit is niks nuuts nie en dit is ook nie ’n verskoning nie.

“Niks gaan verander indien ons as die gemeenskap dit nie verander nie,” meen Nieuwoudt.

In Stellenbosch het André Pelser, wat nou aan die stuur van Stellenbosch se GPF is, dieselfde sentiment gedeel.

“Die enigste manier om misdaad werklik hok te slaan, is vir die gemeenskap om aan misdaadbekamping deel te neem,” verduidelik Pelser.

Hy was die afgelope ses maande ook aan die stuur van die tussentydse GPF-forum nadat die vorige struktuur grootliks tot niet gegaan het.

Monitering, onmiddellike kommunikasie en ’n gekoördineerde reaksie is wat die doeltreffendste sal wees om misdaad hok te slaan, meen Pelser.

Sonjani sê hy sien uit na die bedryfsplanne wat die GPF ter tafel sal lê. “Politiek is by die venster uit. Ons praat slegs van gemeenskapsdiens en niks anders nie.

“Daar is baie vrae oor die afgelope tyd gerig, maar geen enkele persoon alleen het al die antwoorde nie,” meen Sonjani.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.