VF Plus-raadslid nou DA-lid

Voormalige Vryheidsfront Plus-raadslid Isabelle de Taillefer staan nou as die Demokratiese Alliansie (DA) se kandidaat vir die wyk 9-tussen-verkiesing.


‘n Bekende gesig dra nou ‘n nuwe baadjie, met die voormalige Vryheidsfront Plus-raadslid Isabelle de Taillefer wat nou as die Demokratiese Alliansie (DA) se kandidaat vir die wyk 9-tussen-verkiesing staan.

De Taillefer, wat nog by die onlangse Stellenbosch- munisipale raadsvergadering op Donderdag 31 Maart haar sitplek as proporsionele raadslid vir die VF Plus ingeneem het, is nou deel van die plaaslike DA-span. Luidens ‘n verklaring wat deur die Wes-Kaapse DA uitgereik is, sien De Taillefer die blou party as die “die enigste ideale voertuig om haar passie te dien”.

Dié mees onlangse nuwe DA-lid staan in die tussenverkiesing vir die Stellenbosch-sakekern nadat die voormalige raadslid Zelda Dalling vroeër vanjaar bedank het.

“Ek het groot respek vir die burgemeester, Jeremy Fasser, en die onder- burgemeester, Mynard Slabbert, en ondersteun hul visie vir Stellenbosch heelhartig,” het De Taillefer gesê.

“In my tyd op die munisipale raad het ek goeie vriende onder die DA-raadslede gemaak. Hulle het my altyd onbaatsugtig met raad en daad ondersteun om die beste vir al ons mense te kan lewer, dus maak ek die skuif na die koukus van die DA met vrymoedigheid.”

Die VF Plus sal nou De Taillefer se pos as proporsionele raadslid moet vul.

Volgens Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep in die parlement en leier van die Wes-Kaapse VF Plus-kiesafdeling, is De Taillefer se bedanking slegs ‘n tydelike terugslag.

“Indien De Taillefer alles vergeet van wie sy is en wat vir haar belangrik is, behoort sy baie gelukkig in die DA te wees. Ons wens haar sterkte daarmee toe. Haar vakature sal bloot dadelik gevul word,” het Mulder gesê.

Hy het bygevoeg haar pos sal binnekort in gevolge voorgeskrewe prosedures gevul word. Hoewel hy nie verklap het wie die opvolger sal wees nie, het hy gesê hulle is reg om te presteer.

Dr. Leon Schreiber, hoof van die DA se Stellenbosch-kiesafdeling, het op sy beurt gesê De Taillefer is ‘n groot bate as tussenverkiesingskandidaat danksy haar sterk plaaslike kennis en bande met die gemeenskap.

“Raadslid De Taillefer se besluit om by die DA aan te sluit, is deel van ‘n groter patroon in Stellenbosch waar al hoe meer mense besef dat slegs die DA die waardes en grootte het om ‘n tasbare verskil in ons gemeenskap en land te maak,” het hy gesê.

“Sy kan dit nou betekenisvol aanwend tot voordeel van die inwoners van wyk 9, asook die groter Stellenbosch, eerder as om haar ervaring en kennis by ‘n irrelevante klein party vermors.”

• Die tussenverkiesing vir wyk 9 vind op Woensdag 14 Mei plaas.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.