Vergeet van die blomme en tjoklits vir Februarie – by VIA (DStv-kanaal 147) word dinge anders gedoen. Hulle bied iets vir almal – nié net verliefdes nie.
Vandeesmaand is heerlike vermaak vir almal op die kassie te sien. Die groot afskud het nou wel in Januarie al begin, maar dis nog net die begin van die deelnemers se ses maande lange gewigsverliesreis.
Baie trane, sweet en drama lê nog voor, want ’n geldprys van R300 000 vir die wenspan is nie te versmaai nie.
Vandeesmaand neem hulle aan ’n kookuitdaging deel en een deelnemer se eetlus kry die oorhand. Dewald Louw, die sielkundige, vat vas deur ’n groepterapiesessie met die deelnemers te doen. By een van die inweegsessies kry een van die deelnemers nie die uitslae waarvoor hy (of was dit sy?) gehoop het nie. Dis ’n moet-kyk en word Dinsdae om 20:00 uitgesaai, met heruitsendings Saterdae om 19:00 en Sondae om 11:00.
Die gespreksreeks Ons vir jou word nou die eerste keer op VIA uitgesaai. Kykers sal die reeks – wat in ’n vorige seisoen op Netwerk24 beskikbaar was – herken, maar dit is nou in ’n heelwat korter formaat. Ivor Swartz en Rudi Swanepoel is die aanbieders en is albei passievolle Suid-Afrikaners wat wil bydra tot gesprekke en dade wat versoening en ’n dieper verstandhouding tussen mense kweek.
Dié twee predikante takel aktuele onderwerpe in die halfuur-episodes aan, en in elke episode verskyn ’n gas wat tot die onderwerp of kwessie bydra. In een episode praat hulle oor die waarde van die Grondwet en gesels dan met Francois Lion-Catchetm, die kurator van die konstitusionele hof se kunsversameling, sowel as die konstitusionele kenner, prof. Elmien du Plessis.
Hoe kan jy deursettingsvermoë kweek? Dís een van die onderwerpe wat met Gielie Hoffmann en die paralimpiese swemmer, Cornelle Leach, bespreek word. As jy eerste is om oor beurtkrag of die instandhouding van ons paaie te kla, is dié gespreksreeks net vir jou.
Dit begin Donderdag 23 Februarie om 18:00, met heruitsendings Dinsdae om 19:00 en Woensdae om 22:00.
Jongmense, as die filmbedryf jou nog altyd geprikkel het, of die verhoog jou naam roep, is die nuwe seisoen van Speeltoneel net die regte dosis inspirasie om jou daardie hupstootjie te gee. Jong aspirant-akteurs, -sangers en -dansers kry die geleentheid om in ’n kortfilm te speel, wat dan op VIA uitgesaai word. Dit word van Saterdag 25 Februarie om 09:00 uitgesaai, met heruitsendings Woensdae om 22:30.
Dis weer tyd vir Hokaai, ons gaan Platteland toe! Die akteur Sean van Noordwyk neem die leisels as aanbieder by Viljé Maritz oor en neem kykers na ’n rits nuwe plekke wat volgende op hul emmerskoplysie moet wees. Die eerste stop is die prentjiemooi Franschhoek vir dié Bolandse dorpie se gewilde wyntrems. Hier besoek Van Noordwyk ook die parfuum-museum en hy maak sommer sy eie bottel reukwater.
Ander plekke wat in dié reeks besoek word, is Rawsonville, Langebaan, Bela-Bela, Thabazimbi en Hartbeespoort.
Die reeks begin Saterdag 25 Februarie om 17:00.