’n Stellenbosser se droom om aan die Olimpiese Spele deel te neem, is vanjaar ten spyte van vele uitdagings en baie opofferings bewaarheid.
Vicky van der Merwe (35) sal vandeesmaand na Parys vertrek waar sy en twee ander Suid-Afrikaners, Jamie Riddle en Henri Schoeman, die land in driekamp sal verteenwoordig.
Van der Merwe het aanvanklik na die Eikestad getrek toe sy as gr.8-leerder by die Hoër Meisieskool Bloemhof begin het.
“Sport was nog altyd ’n uitlaatklep vir my. Ek het in my skoolloopbaan provinsiale kleure vir nege sportkodes verwerf, maar swem was my ware passie,” vertel die atleet.
Dit was haar deelname in die skool se interhuis-kompetisie wat haar talent vir hardloop ontwaak het. Ná afloop van die interhuis het sy die provinsie in Bloemfontein verteenwoordig en die res is geskiedenis.
Een van haar mede-leerders het haar aangeraai om driekamp te doen aangesien sy in middelafstand-hardloop uitgeblink en ’n liefde vir swem gehad het.
Van toe af hardloop, swem en trap Van der Merwe in driekamp-kompetisies.
“Ons in Stellenbosch is bevoorreg, want hier is van die beste geriewe om al drie kodes te beoefen. Ek was 16 jaar oud toe ek werklik besef het hoe goed ek in driekamp kon doen,” sê sy.
“My droom van die Olimpiese Spele het toe begin. Dit was nie ’n maklike pad nie. My gesondheid het my soms gehinder en ek moes in ’n stadium ’n heupoperasie ondergaan. Die dokters het gesê die liggaam is nie noodwendig gemaak om so hard te oefen soos ek gedoen het nie.”
Van der Merwe het dus vir ’n tyd lank driekamp agtergelaat, maar nooit opgehou met oefen nie.
Sy het egter in 2022, ná die geboorte van haar seun, besluit indien sy dit ooit na die grootste internasionale verhoog sou maak, was die 2024- Olimpiese Spele haar laaste kans.
“Dit is snaaks om te dink nou, aan die einde van my loopbaan, gaan ek uiteindelik Spele toe. Die pad tot hier was moeilik, want twee jaar gelede was dit net ek, my man en my afrigter wat geglo het ek sou dit tot die Spele kon maak,” vertel Van der Merwe.
Sy het stadig maar seker voorberei. Eers het sy drie keer per week geswem; nou ses keer. Sy hardloop nou sowat 80 km per week en is vyf keer per week op haar fiets.
Haar eerste deelname aan ’n groot kompetisie was in die Afrika-spele in 2022, waar sy sewende in die driekamp geëindig het.
Verlede jaar was sy in dieselfde kompetisie vyf minute vinniger en het die item gewen. “Om jou kop daar óm te kry dat jy vir die Spele mik, is een ding, maar wanneer jou resultate dit begin wys, is dit net soveel makliker.”
Tussen al die voorbereiding het Van der Merwe steeds haar onderneming, Stellenbosch Triathlon Squad, behartig. Sy bieg sonder haar man sou sy nie die harde werk van die afgelope twee jaar kon volhou nie.
Sy vertrek eersdaags na Parys vir die opening van die Olimpiese Spele op Vrydag 26 Julie en sal Woensdag 31 Julie in die driekamp-kompetisie meeding.