Ter viering van die uitvinding van die akkordeon 195 jaar gelede, in 1829, kan Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers uitsien na ’n reeks konserte deur ’n professionele internasionale trekklavierorkes.
Die Landes Jugend Akkordeon Orchester Nordrhein-Westfalen (LJAO NRW) sal onder meer vandeesmaand in Gauteng en KwaZulu-Natal optree en maak vandag (Donderdag 17 Oktober) sy Kaapse draai in Stellenbosch.
LJAO NRW, die federale jeugtrekklavierorkes van die Noordryn-Wesfale-streek in Duitsland, sal plaaslike gehore vermaak op uitnodiging van die Suid-Afrikaanse Vryrietvereniging (Safra). Dié plaaslike organisasie sonder winsbejag poog om vryrietinstrumente soos die trekklavier, konsertina en mondfluitjie in Suider-Afrika te bevorder.
Safra het vroeër vanjaar aangekondig dat die akkordeon nou beskikbaar is as ’n musiekinstrument vir leerdoeleindes op sekondêre en tersiêre vlak. Die eerste akkordeonstudent het reeds by die Universiteit van Kaapstad ingeskryf.
Suid-Afrika het ’n ryk erfenis van trekklavierfamilie-musiek wat die Zoeloe-maskandi, Lesotho se famo, boeremusiek en Kersfeeskore insluit.
Die trekklavierorkes uit Duitsland bestaan uit meer as 25 trekklavierspelers. Onder leiding van die dirigent, Silke D’Inka van die Duitse Harmonikavereniging en lid van die Duitse Musiekraad, sal die orkes ’n wye verskeidenheid musiek uitvoer wat wissel van verwerkings van die vorige eeue se klassieke tot eietydse oorspronklike komposisies vir trekklavierorkeste.
Gehore kan ’n verrassing of twee verwag met ’n paar plaaslike liedjies en samewerking met Suid-Afrikaanse musikante tydens die toer.
- Donderdag se vertoning by die Endler-saal by die Universiteit Stellenbosch-konservatorium begin om 13:10.