Wynliefhebbers kan nou reeds planne beraam om Donderdag 2 Februarie ’n glasie op Suid-Afrikaanse wyn te klink. FOTO: iStock


Klink ’n glasie en neem deel aan die SA Wynoesvieringe in Februarie 2023.

Februarie is ’n maand wat nie misgeloop kan word nie! Elke jaar word die verjaardag van die Suid Afrikaanse wynbedryf in hierdie maand gevier en dit pryk hoog op almal se kalenders – 2023 is geen uitsondering nie.

“Heeden is Goode loff van die Caepse druyven d’eerste mael wijn geparst.” So staan daar geskryf in die dagboek van Jan Van Riebeeck op 2 Februarie 1659. Dit is ’n tydlose sin wat inderdaad die geboorte van die Suid Afrikaanse wynbedryf aangekondig het.

Die datum 2 Februarie is die begin van die land se wynoesvieringe wanneer Suid-Afrika almal nooi wat ’n passie en liefde vir wyn deel. Dit sluit die sakegemeenskap, produsente, sosiale drinkers, wynkenners, restaurateurs, versamelaars en kleinhandelaars in, waar almal ’n glasie kan klink om Suid-Afrika se ryk wynerfenis te vier.

Wynoesherdenkingsgeleentheid

Die Groot Constantia-wynlandgoed in Kaapstad sal op 2 Februarie gasheer speel vir hierdie jaarlikse viering. Dit is wanneer die wynbedryf individue en organisasies amptelik vereer vir hul uitsonderlike bydrae in die volgende kategorieë: Visioenêre Leierskap (met die 1659 Visioenêre Leierskap-toekenning), Diversiteit en Transformasie, Wynbevordering, asook Wingerdbou en Wynskepping.

Oor die jare heen is baie groot wyngeeste vereer, soos Nelson Mandela, die Onbesonge Wynarbeiders, Ntsiki Biyela, Norma Ratcliffe, Beyers Truter en Charles Back. En in 2022 het Carmen Stevens, Denise Stubbs, Francois Viljoen en Christine Rudman hulle by hierdie groep baanbrekers aangesluit.

Klink ’n glasie op ons natuurlike biodiversiteit

Die bewaring van die land se ryk biodiversiteit is ’n groot prioriteit vir die wynbedryf. Suid-Afrikaanse wynprodusente, groot en klein, van kus tot kus, is uiters bewus daarvan dat hulle die bewaarders is van die grond waarop hulle produseer.

Suid-Afrika se geliefde fynbos met sy diverse plantsamestelling speel gasheer vir die wynbedryf aangesien 95% van die wynverbouing in die unieke habitat van die Kaapse fynbos plaasvind. Die handhawing van ’n balans tussen natuur en landbou is deurslaggewend en maak Suid-Afrika uniek wanneer dit kom by die verskillende wynproduserende areas se uitdrukking van die uitsonderlike rykdom van die land se wyne en natuur.

Maak gereed vir ’n fees

Moet dit nie misloop nie! Teken Donderdag 2 Februarie in jou dagboek aan en wees op die uitkyk vir verjaardaggeleenthede van die SA wynbedryf oor die hele Suid-Afrika. Word deel van die maand lange viering van Suid-Afrika se voortgesette wynnalatenskap! Om virtueel by die feestelikhede aan te sluit, volg net op die dag die skakel www.sawineharvest.co.za en klink ’n glasie op Suid-Afrikaanse wyn! Deel jou vieringe op sosiale media met @sawineharvest met die hutsmerk #HappyBirthdaySAwine.

You need to be Logged In to leave a comment.