Stellenbossers kan die nuwe jaar op ’n goeie en feestelike noot afskop met die jaarlikse oesparade wat Saterdag 28 Januarie die strate van die Eikestad in ’n kleurvolle fees sal verander.
Om die parade ekstra spesiaal te maak, vind die geleentheid in dieselfde week plaas wat Suid-Afrika die 364ste jaar sedert wyn vir die eerste keer hier gemaak is, herdenk. SA is die enigste land die wêreld heen met ’n amptelike aangetekende datum – 2 Februarie 1659 – vir hierdie geleentheid.
Oesfeeste is egter alomteenwoordig in wynboerdery gemeenskappe regoor die wêreld, en dien nie net as feesviering nie, maar ook om die naderende seisoen wanneer druiwe vir die nuwe wyn gepluk word, te seën.
“Oestyd is die oomblik wanneer Moeder Natuur haar beloning vir ’n jaar se harde werk en sorg in die wingerde, verklap,” het Elmarie Rabe, bestuurder van Stellenbosch Wynroetes, verklaar.
Die Stellenbosch Wynoes-parade word in samewerking met die Stellenbosch-munisipaliteit en Stellenbosch Wynroetes aangebied. Elke jaar is die dorp se strate vol kykers, wat na die vlotte en hul geklede gevolge kom kyk. Onder hulle is wynmakers en werkers, en ook wynliefhebbers.
Dit begin die oggend om 09:30 by die Speelgoedmuseum in Markstraat en kronkel deur die dorp se bekende strate omsoom deur eikebome, om by die stadsaal af te sluit met ’n kort seremonie. Hier sal burgemeester, adv. Gesie van Deventer, wat ook die fees se beskermheer is, amptelik die oes seën. Die parade vertrek weer vandaar en eindig weer in Markstraat.
Die gewilde trofees vir beste gees en beste vlot, sal ook toegeken word en die wynroete nooi oud en jonk uit om hulle te kom aanmoedig.
Besoek www.wineroute.co.za vir meer inligting.