Speurwerk en vinnige optrede deur drie Klapmuts-polisiebeamptes het vier verdagtes agter tralies laat beland nadat hulle vroegoggend na bewering ’n vrou beroof het.
Sers. PJ Pietersen en sy speurder-kollegas AO Brian Crozier en sers. Justin America was op die spoor van Jowayne Willemse, Jeremy Geland, Faseem Figliomend en Ethan Grewer omdat hulle verdink is van ’n rooftog op Woensdag 18 September.
Volgens die klaer was sy om 05:40 naby die Pinotage Villas onderweg toe sy deur vier mans genader en met ’n mes gedreig is.
Die vrou het dit goedgedink om liewer haar besittings aan die groep te oorhandig en hulle is weg met haar rugsak wat onder meer haar bankkaarte en geld bevat het.
’n Lid van die plaaslike buurtwag meen rooftogte soos dié is ongelukkig die norm in die buurt.
“Douvoordag, soggens van 04:00 en later, loop die boewe met toegemaakte gesigte. Baie van ons mense moet soggens vroeg na die stasie en taxistaanplekke stap en dit is wanneer hulle geteiken word,” verduidelik die buurtwag-lid.
Op daardie betrokke Woensdag het die polisiebeamptes die verdagtes agternagesit en die groep aangekeer nog voordat hulle uit die buurt kon vlug.
Sedertdien het die verdagtes in die Paarlse hof verskyn en staan tereg op ’n aanklag van gewapende roof het Sers. Madilyn Dombas, polisiewoordvoerder vir Klapmuts, bevestig.
“Ons as die Klapmuts-buurtwag kry heelwat klagtes van vroegoggend-rooftogte en vra die gemeenskap om asseblief hul besittings aan die rowers te oorhandig. Maar maak tog seker jy gee ’n goeie beskrywing aan die polisie sodat hulle die regte mense kan aankeer.”
In hierdie geval van die vier verdagtes het ’n goeie, akkurate beskrywing deur die klaer gehelp om die regte kwaaddoeners op te spoor.
Die Klapmuts-veiligheidsinisiatief is vanjaar gestig in ’n poging om ’n gemeenskaplike en gesamentlike misdaadbekamping te bewerkstellig.
Hierdeur werk die plaaslike polisie, buurtwagte en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) saam om ook voorkomend op te tree.
Vier lede van die Klapmuts-buurtwag is ook onlangs deur die Stellenbosch-munisipaliteit aangestel as veiligheidsmonitors wat saam met wetstoepassingslede werk.
Die buurtwaglid sê inwoners word veral ingeloop met OTM-bedrog by die Shoprite-sentrum.
Dit blyk veral op dae te wees wanneer staatstoelaes uitbetaal word dat skelms toeslaan. “Wetstoepassers help om dadelik te reageer en hier ook help dit indien inwoners goeie beskrywings aan beamptes kan verskaf.”. In ’n afsonderlike voorval het ’n wenk die Klapmuts-polisie na ’n onwettige vuurwapen gelei wat danksy hul optrede uit die strate verwyder is. Sers. Madilyn Dombas, het inligting ontvang dat ’n verdagte in besit van ’n vuurwapen is.
Met die hulp van verkeersbeamptes en die Boland K9-eenheid was Domas op die spoor van Ashwin Visser.
Op Vrydag 27 September om 19:45 het die wetstoepassers Visser opgespoor en hom in hegtenis geneem op ’n aanklag van die besit van ’n onwettige vuurwapen.