Vier spelers wat as jong seuns hul krieketvaardighede onder die leiding van die voormalige Protea-krieketspeler, Henry Williams, geslyp het is tans in aksie te sien in die SA20-toernooi.
Lizaad Williams, Bjorn Fortuin, Dyyaan Galiem en Ferisco Adams het hul eerste tree in krieket in Boland gegee onder die afrigting van Williams, wat tans ook hulp-boulafrigter van Paarl Rocks is.
Williams, ’n boorling van Pniël, het die spelers sedert o.13 afgerig en is baie trots op elkeen se prestasies vir die onderskeie franchises waarin hulle tans speel. Die SA20 eindig Saterdag (10 Februarie) met die eindstryd op Nuweland.
Lizaad en Bjorn het Woensdag 7 Februarie teen mekaar kragte gemeet in Johannesburg.
“Ek is baie trots op Lizaad en Bjorn, maar veral op Lizaad, wat tans die meeste paaltjies, 15 paaltjies tot voor Woensdag, ingeoes het. Hoewel Ferisco en Dyyaan nie tans speel nie, het hulle die potensiaal om wedstryde te wen. Ek is al 18 jaar ’n boulafrigter by Boland en vandat Boland beroepstatus gekry het, werk ek al drie jaar saam met die spelers en voor dit het ek Boland se amateurspan afgerig, ook vir drie jaar. Voordat ek ’n afrigter geword het, het ek vir 12 jaar vir Boland beroepskrieket gespeel,” sê Williams.
Die Boland is vol diamante en Williams voel verskillende klubkompetisies sal ’n bydrae tot die ontdekking van nuwe talent in die streek maak.
“Wanneer die diamante ontdek is, moet geleenthede geskep word om hulle by die akademie en op Colts-vlak in te kry. Veral 17-jariges moet uitgeken word en hulp kry om hul talente verder te ontwikkel tot voordeel van die unie. Uitstaande jong spelers wat in die toekoms dopgehou moet word, is Jevano Baron, Achille Cloete, Tjokkie Voster en Nathan Jacobs. Indien hulle die opoffering maak om hard te werk en gereeld die oefeninge van Paarl Rocks by Boland Park bywoon, kan hulle geslyp word om skerper te wees wanneer die geleenthede hom voordoen,” sê Williams.
Hy was 14 jaar die persoonlike boulafrigter van Shibnam Ismael wat onlangs uit die Proteas-vrouespan uitgetree het, en tans een van die voorste boulers in die wêreld, voordat sy die span gehaal het, en help nog steeds om haar arsenaal te versterk.
“Pniël is ’n baie klein dorpie met ’n ryk sportgeskiedenis. Behalwe ek, wat in 1998 ’n volwaardige Protea geword het, het Henry Davis sy debuut vir die Proteas in die T20-internasionale wedstryde gemaak,” vertel hy.
“Die dorp se rugbygeskiedenis is net so kleurryk want my oorlede pa, Charles “Boelie” Williams, het in 1961 die Silwerbeker gewen, saam met Ivor “Pitty” Myburgh, wat onlangs oorlede is. Albei van hulle sou in enige Springbokspan ingestap het, as hulle die geleentheid gegun was.
“In die 1988-’89-seisoen was Pniël-Villagers, ons dorpspan, die beste in die destydse Boland-rugbyunie, en die naasbeste in die land en ek kan met trots sê, dat ek vir die span gespeel het.”
Ander krieketspelers wat deur die jare vir Boland gespeel het, sluit in spelers soos Jacques van Wyk, Andrew Cyster, Charl Cyster en Reeve Cyster, almal van Pniël, en nog ’n bewys hoe ryk die sportgeskiedenis van die dorp is.