Stellenbosch-polisie het vier verdagtes, onder wie ’n vrou, aangekeer in verband met die moord op ’n Matiestudent in sy eerste jaar.
Jesse Mitchell was Woensdagoggend (16 Oktober) omstreeks 03:00 op sy fiets in Borcherdweg in die middedorp toe hy deur verdagtes beroof is. Kapt. Nathalie Martin, plaaslike polisiewoordvoerder, het vroeër vandeesweek bevestig ’n verdagte (19) is reeds in verband met die 19-jarige Mitchell se moord in hegtenis geen.
Sedertdien het plaaslike speurders en lede van misdaadintellegensie-eenheid saam gewerk om nog drie verdagtes in verband met Mitchell se dood te arresteer. Mitchell was die oggend in die nek gesteek en van sy besittings, onder meer sy fiets, beroof. Hy het op die toneel aan sy beserings beswyk.
Die Universiteit Stellenbosch (US) het Woensdag in ’n verklaring gesê die universiteitsgemeenskap is geskok en hartseer ná die moord op Mitchell. “Die verlies van ’n kosbare jong lewe – veral onder sulke tragiese omstandighede – kom altyd as ’n groot skok vir die universiteitsgemeenskap,” het prof. Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, gesê.
“Ons gedagtes is by die familie en die student se vriende en klasmaats in hierdie uiters moeilike oomblik van verlies. Ons wens hulle alle sterkte toe in hierdie tyd van rou en dat hulle daarvan bewus moet wees dat hulle kan reken op die ondersteuning van die US-gemeenskap.” Studente is aangeraai om gebruik te maak van berading indien nodig. Ramjugernath het hulle aangespoor om van die universiteit se 24-uur-krisisdiens na-ure by 010 205 3032 en 021 808 4994 gedurende kantoorure, gebruik te maak.
Die volgende dag (17 Oktober) is twee mans – onderskeidelik 28 en 29 jaar oud – en ’n vrou in Cloetesville in verband met die student se dood gearresteer. Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, lt. genl. Thembisile Patekile, het die polisiebeamptes geloof vir hul vinnige optrede om die verdagtes agter tralies te kry.
Die 19-jarige verdagtes sal Vrydag (18 Oktober) in die Stellenbosch-landdroshof verskyn, terwyl sy mede beskuldigdes in die hof sal verskyn sodra amptelike klagtes teen hulle gebring word.