Drie van die vier geslagte Lupini-renjaers – oupa Mario, Giordano (met die renhelm) en sy pa, Michele.Foto:

Credit: SYSTEM

Dit moet seker iets in die wyn of die berglug in die Franschhoek-omgewing, met inbegrip van Stellenbosch en die Paarl, wees – dié wynlande het pas ’n derde kampioenrenjaer opgelewer.

Wel, Giordano Lupini, ’n BCom-gegradueerde van Franschhoek, moet nog baie doen om in die merke van die tollende bande van die Paarliet Sarel van der Merwe of Stellenbosch se Dakar-held, Giniel de Villiers, te jaag, maar dié 22-jarige amateur-renjaer bevind hom ná die afgelope naweek gewis in die geselskap van die ander bekendes in dié bekende wynlande.

Giordano, die vierde geslag Lupini-renjaer ná sy oupagrootjie, oupa en pa, wat almal naam op Suid-Afrikaanse renbane gemaak het, het Saterdag (18 Maart) elke deel van die nasionale Polo-beker-renne oorheers deur nie net skoonskip te maak in die dag se renoorwinnings nie, maar ook al drie die dag se vinnigste rentye op te stel.

Giordano Lupini is ’n haan onder die henne ook – van links is sy suster, Marcella, sy ma, Carol, en sy meisie, Megan Veldhuis. Foto:

Lupini moes hard werk vir sy oorwinnings met die hele CompCare Polo-beker-renveld wat sy Tork Craft Tools-Polo in hul visier gehad het.Foto:

Twee renne later – Giordano Lupini het die kwalifiserende ronde gewen, die vinnigste rondtetyd in al twee Saterdag se Killarney-renne opgestel en al twee die dag se hoofrenne gewen.Foto:

Dié plaaslike student, wat nié vanjaar op die renbaan sou wees nie, het op die nippertjie besluit om tog in sy “tuisren” deel te neem op die baan waar sy oupagrootjie, Gigi Lupini, en sy oupa, Mario Lupini, internasionale sukses behaal het. Gigi Lupini het ook in die 1920’s in die Mille Miglia gejaag en die Scuderia Lupini-renspan in die 1950’s en ’60’s aangevoer. Oupa Mario het destyds in dié span in omtrent alles op vier wiele gejaag – veral die nege-uur-uithouren op Kyalami – en pa Michele het sy merk in Groep N-renne in die 1990’s gemaak.

Giordano het Saterdag in sy Tork Craft Tools Polo opgedaag en al wat ’n komponent van die Polo-beker-renne was, oorheers. Hy het die vinnigste kwalifiserende tyd vir die voorste wegspringposisie aangeteken en nie net al twee die dag se renne algeheel gewen nie, maar ook die vinnigste rondtetyd in elk van die twee renne opgestel.

Sy meisie, Megan, het dalk haar gekuurde naels voor die byeenkoms gekou, maar was die ene glimlag toe haar ridder op sy renperd alles gewen en behoorlik skoonskip gemaak het.

“Ek het ’n perfekte naweek gehad, al het ek eers Maandag besluit ek gaan deelneem. Ek sou glad nie vanjaar gaan jaag het nie, maar my span van 2022 het besluit ek moet my tuisbaan gaan aandurf. Ek was ’n bietjie lyfseer en styf ná die ren, maar het elke oomblik daarvan geniet!”

Giordano, wat ná sy BCom-graad in bemarking ’n paar nagraadse spesialiskursusse aan die IMM Stellenbosch voltooi, hoop om aanstaande jaar weer voltyds agter die Polo se stuur in te skuif, “maar dalk jaag ek vanjaar weer in nog ’n ren of twee”.

You need to be Logged In to leave a comment.