Vleg solank jou blomkroon vir Tuindag

Tuindag bied elke jaar aan Suid-Afrikaners die geleentheid om hul tuine te vier.


Tuindag bied elke jaar aan Suid-Afrikaners die geleentheid om hul tuine te vier.

Dis ’n spesiale dag om die harde werk, maar ook die vreugde wat tuine bring, met ’n prettige tuinpartytjie te vier. Groot en klein tuine kan mense bymekaarbring. Dit is hoekom mense wat lief is vir plante en tuinmaak aangemoedig word om Sondag 20 Oktober ’n blomkroon te vleg en in die pret te deel.

Tuindag is ’n viering vir plantliefhebbers en tuinmaakgeesdriftiges. Dis perfek vir mense wat hul tuin graag met ander wil deel, asook vir elkeen wat daarvan hou om te onthaal en graag tyd saam met hul geliefdes deurbring.

Vir Pietman Diener van Stellenbosch, ’n ywerige tuinier en plantkenner, gaan dit oor die vreugde wat plante en tuine bring. Sy eie tuin is ’n vrolike deurmekaarspul, sê hy. “By die huis is ek nie ’n netjiese tuinier nie; ek hou van ’n kleurvolle warboel. Dit hoef nie perfek te wees nie.”

Diener beplan om Tuindag in sy tuin tuis saam met die spesiale mense in sy lewe te vier. “Tuindag is ’n verlenging van my liefde vir tuinmaak en die lewe is te kort om nie te doen waarvoor jy lief is nie. Ons sal op Tuindag uit die tuin eet.”

Ná ’n oordadige kweper-oes sal daar ’n stroperige kweperkonfyt wees, asook ’n vars slaai met bestanddele uit die tuin – aspersies, boontjies en blomme. “Blomme uit die tuin is baie belangrik in ons huis – en om met ons familie en vriende te deel,” sê Diener.

Corli Leonard, ’n bedryfsingenieur en bloemiste van Heidelberg en wat op sosiale media as “Veldmeisie” bekendstaan, sê die natuur inspireer haar. Vir haar gaan Tuindag oor dankbaarheid en om jouself tyd te gun om jou tuin en die buitelug te geniet. Sy vier dit graag saam met goeie vriende.

“Ons maak blomkrone en gebruik ’n verskeidenheid plante, vrugte, blomme en groente,” sê sy.

Haar raad: “Gebruik wat jy het en moenie vergeet om ’n bietjie te speel nie.”

’n Gedeelde tuin in ’n buurt kan inwoners trots maak op hul omgewing, vriendskapsbande tussen mense versterk en ’n gevoel van gemeenskap bevorder, toon studies oor gemeenskapstuine.

Codi Marais, die stigter van Groa (Grow a Garden) in Ottery, help ook om gemeenskappe te voed deur ’n leefstyl van volhoubaarheid te vestig en herlewingslandbou aan te moedig. Groa help mense deur hulle praktiese vaardighede te leer oor hoe om gewasse op die regte manier te plant. Die organisasie het ten doel om voedselsekerheid in kwesbare gemeenskappe te verseker.

Marais vier Tuindag deur sy ouma se nalatenskap voort te sit. Hy is dankbaar vir die groot verskeidenheid plantegroei in die land. Hy sal op die dag aan ’n uitreikprogram in en om Kaapstad deelneem.

Jou Tuindagviering kan enigiets wees – van ’n feestelike middagete tot ’n piekniek of teepartytjie in die tuin. Jy kan bloot rustig onder jou gunstelingboom in jou tuin sit. Maak nie saak wat jy doen nie – moet net nie vergeet om jou blomkroon te dra nie.

Besoek www.gardenday.co.za vir talle hulpmiddels wat jou kan help om jou Tuindag-viering te beplan. Daar is aanpasbare plakkate, uitnodigings en spesiale grafika wat jy op sosiale media kan deel om te wys jy ondersteun Tuindag, asook riglyne en wenke oor hoe om jou eie blomkroon te maak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.