Vlottenburg Primêr kry nuwe laboratorium danksy Ford SA-eeufees

’n Honderd jaar van handel dryf vir Ford Suid-Afrika het daartoe gelei dat 100 Suid-Afrikaanse laerskole ’n wiskunde-en-wetenskap-laboratorium ryker is – en die laaste laboratorium is aan Vlottenburg Primêr buite Stellenbosch, oorhandig.


’n Honderd jaar van handel dryf vir Ford Suid-Afrika het daartoe gelei dat 100 Suid-Afrikaanse laerskole ’n wiskunde-en-wetenskap-laboratorium ryker is – en die laaste laboratorium is aan Vlottenburg Primêr buite Stellenbosch, oorhandig.

Die Ford Philanthropy, die Gift of the Givers-stigting, Maersk Suid-Afrika en die departement van basiese onderwys het saamgewerk om die skeepsvraghouer-laboratoriums te skenk aan skole wat dit die nodigste het.

Charmaine Abramse, die skoolhoof, sê sy en die skoolgemeenskap is verheug oor die belegging wat die rolspelers in die skool gemaak het.

“Die leerders was so nuuskierig oor wat alles in die skeepsvraghouer was. Ons moes hulle net weghou,” vertel sy.

Die 508 leerders hoef nou glad nie meer te wonder nie en kan die spesifieke wiskunde- en wetenskap-toerusting saam met hul onderwysers benut.

Lesse vir alle grade kan in die nuwe laboratorium geskied, met alles van ’n aardbol tot toerusting vir eksperimente wat nou beskikbaar is.

Volgens Neale Hill, die president van Ford Motor Company Africa, is dit slegs danksy die ondersteuning van hul mede-organisasies dat dit moontlik is om die toerusting aan minderbevoorregte skole te bied.

Hy sê die 100 laboratoriums sal sowat 20 000 leerders help en na raming sal dit 250 000 oor die volgende dekade aanspoor om by wiskunde en wetenskap betrokke te raak.

Dr. Imtiaz Sooliman, stigter en voorsitter van die Gift of the Givers-stigting, het die leerders aangespoor om ten volle van hul nuwe bate gebruik te maak.

“Hierdie laboratorium dien nie net as inspirasie vir die leerders nie, maar ook die onderwysers en die breër gemeen­skap, en met sulke inspirasie beweeg ons weg van die negatiewe dinge in die samelewing,” meen Sooliman.

Sedert die projek verlede November van stapel gestuur is, het onderwysers ook die nodige opleiding gekry om die laboratoriums saam met die leerders te gebruik.

Graad 7-leerders bekyk die nuwe toerusting in die laboratorium.Foto: Yaël Malgas
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.