Die herinneringe van ‘n groep oud-Vlottenburgers is die afgelope vier jaar bymekaargemaak en geskaaf en is nou in boekvorm beskikbaar vir lesers om te geniet.
Wat uiteindelik Inwoners van Vlottenburg geword het, het tydens die Covid-19-grendeltyd begin toe die oudonderwyser Attie Rhode (74) sy lewensverhaal begin neerpen het. Ná sy skryfwerk het Rhode gewonder of die staaltjies ‘n boek kan word.
“Ek het toe die idee gekry om meer mense van Vlottenburg te nader om elkeen hul verhaal te vertel,” het Rhode die afgelope Saterdag (21 Junie) by die amptelik bekendstelling van die boek gesê.
Rhode het toe verskeie oud-Vlottenburgers wat hy deur die plaaslike Lyons-sokkerklub geken het, genader. Dié klub was nog altyd ‘n belangrike deel van die gemeenskap – soveel so dat al 12 mede-skrywers Saterdag in die klub se swart en rooi kleure geklee was.

Die skryf, redigering en samestelling van die boek het jare geneem met die hulp van onder andere die navorser Loretha du Plessis, Marlene Cloete (taal-versorging) en Connie Park, wat met die uitleg van die boek gehelp het.
Arthur Moses meen die jongspan van vandag sal hulle nie sommer kan vereenselwig met die skrywers se kindersdae nie. “Destyds was ons so baie leerders dat ons in skofte skool toe moes gaan. Ons was deel van die middagskof wat om 12:00 met lesse begin het. Daar was ook nie een groot skoolgebou soos Vlottenburg Primêr nou nie,” sê Moses.
Hy het op die Sandrift-plaas grootgeword, wat deesdae die Digteby-landgoed is. Dié landgoed was dus die ideale ligging vir die boekbekendstelling.
Francois “Frans” Jooste, wat op ‘n nabye plaas grootgeword en saam met Moses sokker gespeel het, onthou goed hoe hy as kind op ‘n koue winteroggend sy kaal voete in beesmis gedruk het om sy voete warm te maak voordat hy skool toe moes stap.
Ten spyte van die verloop van jare vertel Jooste en Moses van hul vaardighede op die veld. Hulle onthou goed hoe hulle as deel van die Lyons se o.14-span in Idasvallei by die destydse ou hokke teen die plaaslike klub daar gespeel en geseëvier het.
“Daar was nie destyds busse wat ons aangery het nie. Jy het agter op ‘n oop trok geklim en dan is ons weg. Ons het dit nie breed gehad nie, maar dit was gelukkige dae ook.
“Die sokker was vir ons ‘n manier om van al die verskillende plase af byeen te kom. Ek onthou goed die eerste sokkerbal wat ons hier op Vlottenburg gehad het, was ‘n varkblaas,” vertel Jooste.
Die geskiendenis van varkblaas-balle, Vlottenburg se plase, sport en kultuur asook die tragiese fasette van die dorpie, is juis wat Rhode in die boek vir nageslagte wou vasvang.
Hy verduidelik die doel van die boek was om lesers – veral Vlottenburg se kinders – te vergewis dat hulle bo hul omstandighede kan uitstyg, al word hulle op ‘n plaas groot.
Benewens Rhode is talle van sy medeskrywers ook onderwysers en die groep sluit ook ‘n afgetrede natuurbewaarder, talle beamptes van staatsdepartemente en munisipaliteite asook ‘n elektriese ingenieur in.
“In Vlottenburg is nog ‘n magdom stories te vertel. Ons het oor die mense van ons tyd en vanuit ons oogpunt geskryf,” verduidelik Rhode.
Op ‘n vraag of ‘n tweede uitgawe van die boek volg, het Stan Amos, wat self ‘n bobaas-navorser is en met die boek gehelp het, die gemeenskap aangemoedig om nou te bou op wat die 12 skrywers reeds vasgevang het.
You must be logged in to post a comment.