Agtergrond
President van die US Konvokasie, Adv. Jan Heunis SC, het die volgende drie alumni versoek om `n memorandum in hul persoonlike hoedanigheid op te stel as reaksie op die rektor se bestuurspan (RBS) se voorstel:
• prof. Flip Smit, voormalige rektor van Universiteit van Pretoria
• prof. Hermann Giliomee, emeritus professor in politieke studies by die Universiteit van Kaapstad
• prof. Christo Viljoen, voormalige vise-rektor van US
Hier onder is ‘n lys van skeppende kunstenaars, meningsvormers en openbare figure wat ons voorstel steun. Voor die Raadsvergadering van 9 Mei sal `n lys van organisasies wat ons standpunt steun, ingedien word.
Hierdie memorandum word ingedien saam met `n meer omvattende dokument as `n bydrae tot die hersiening van die US se taalbeleid.
Lys van openbare figure, meningsvormers en skeppende kunstenaars wat ons voorstel steun
• Fritz Brand, onlangs afgetrede Appelregter
• Breyten Breytenbach, digter
• John Coetzee, Nobel-pryswenner
• Paul Colditz, Uivoerende hoof FEDSAS, wat 1974 skoolbeheerliggame landswyd verteenwoordig
• Ebbe Dommisse, voormalige redakteur van Die Burger
• Theo du Plessis, hoof, Eenheid vir Taalfasilitering en –Bemagtigin,g Universiteit van die Vrystaat
• Marie Heese, opvoedkundige en navorser oor voertaalmetodiek
• R.W. Johnson, skrywer van How Long will South Africa Survive? (2015)
• Rhoda Kadalie, aktivis en Ontvanger van `n US Ere-doktorsgraad
• Tony Leon, rubriekskrywer, voormalige politikus en ambassadeur.
• Lord Renwick of Clifton. voormalige Britse Ambassadeur in Suid-Afrika
• Hendrik Theys, onder-voorsitter van die Afrikaanse Taalraad
• Danie van Wyk, Goeie Hoop-inisiatief
• David Welsh, skrywer van The Rise and Fall of Apartheid (2009)
Motivering
Ons is oortuig dat die RBS se voorgestelde beleid vaag is en groot gebreke het.
Indien deurgevoer, sal dit Afrikaans as akademiese, literêre en wetenskapstaal ? nekslag toedien. Dit sal Afrikaans marginaliseer by die enigste universiteit in die land, gesien sy geografiese ligging, waar dit nog ‘n kans het om ? vaste, volwaardige en volhoubare plek as onderrigtaal te beklee.
Die US is geleë in `n provinsie waar 49,7% van die inwoners Afrikaans as huistaal besig teenoor 20.3% Engelse huistaalsprekers.
Die RBS se voorgestelde beleid ignoreer nie slegs die regionale demografie nie maar ook een van die belangrikste funksies van die moderne universiteit, naamlik kultuur-oordrag.
John Coetzee, Nobel-pryswenner vir literatuur in 2001, stel dit so: “My sympathies are all on your side. The crucial fact, for me, is that the official Taalbeleid document does not once use the word “kultuur.” The university management seems to conceive of language as an instrumental communication system without any culture-bearing role.” (Kommunikasie aan H. Giliomee, 16 April 2016)
Verder bevat die RBS geen enkele verwysing na die waarde van moedertaalonderrig nie, wat ook vir onderrig op universiteitsvlak geld.
Dr. Marie Heese, `n deskundige van die metodiek van universiteitsonderrig, verklaar soos volg:
“Ek het self in my tyd by Unisa sulke navorsing onderneem, met die doel om te probeer bepaal hoe ons sukkelende studente ten beste kon help. Vraelyste is wel daarmee saam gebruik, asook ‘n aantal fokusgroepe. Een van die belangrikste bevindings was dat swak studente meermale hul eie vermoëns ver oorskat. Hulle besef nie watter kerngegewe taal is en hoe ernstig ‘n verkeerde taalopsie hulle kan pootjie nie. Hulle word heeltemal onkant gevang wanneer hul uitslae onverwags power is. Dan blameer hulle die dosente. Die beste manier om hierdie studente te ondersteun, is nie om ekstra ‘hulp’ aan te bied wat hulle in elk geval beledig laat voel nie. Dit is om die taal van onderrig so toeganklik moontlik te maak, dus, onder meer, moedertaalopsies vir soveel moontlike studente.”
Die bestuur het blykbaar ook nie ag geslaan op navorsing van ander kenners soos dié van dr. Katheen Heugh, eers van die Universiteit van Kaapstad en nou van die Universiteit van Wes-Australie, wat die waarde van moedertaalonderrig op universiteitsvlak onderstreep.
Dit wil voorkom of die bestuur sy voertaalbeleid bloot op die studentekorps se demografiese samestelling en die taalvoorkeur van studente, soos aangedui op `n toelatingsvorm, gebaseer het.
‘n Mens sou verwag het dat die bestuur meer erns sou gemaak het met so `n krities belangrike saak soos die beste voertaal vir ten minste die helfte van sy studente.
Dit lyk of die universiteit hom min bekommer oor die feit dat bruin Afrikaanssprekendes die gemeenskap in die land is met die laagste deelname aan universiteitsonderrig. Die helfte van die bruin studente op die kampus was in 2014 Afrikaanssprekend. Wit Engelssprekendes sal die groot wenners wees onder die voorgestelde beleid.
Die RBS se voorstel maak voorsiening vir parallelmediumklasse (aparte Afrikaanse en Engelse strome), maar daar word heeltemal te veel diskresie aan die dekane en dosente self oorgelaat of hulle dit wil instel om sodoende vir ? volwaardige Afrikaanse stroom voorsiening te maak. Daar word gepraat van die parallelmodus wat aangebied sal word waar dit “redelik is” en waar dit “pedagogies verantwoordbaar is”.
Tolking na Afrikaans “kan” aangebied word. Daar word ook gemeld dat met die “implementing van die taalbeleid” daar rekening met die “beskikbaarheid van personeel en hulpbronne gehou word.”
Tolking na Afrikaans kom vreemd voor vir `n universiteit wat sy ontstaan te danke het aan die begeerte om van Engelse oorheersing te ontsnap en dit op `n dorp en `n streek wat oorwegend Afrikaanssprekend is.
Die nuwe sogenaamde “D-opsie” vir alle ander klasse is ? ongekwalifiseerde ramp vir Afrikaans. Dit bepaal dat alle inligting in Engels oorgedra moet word. In die praktyk sal daar waarskynlik net vlugtig aan die begin en aan die einde van die lesing Afrikaans gepraat word. Dit bepaal verder dat verpligte leesstof in Engels is en “indien redelik ook in Afrikaans.”
Dit is nie vergesog om die RBS se voorgestelde beleid as ? uitfaseringsplan vir Afrikaans te beskryf nie. Die studente wat die meeste hieronder gaan ly, is bruin Afrikaanssprekendes. Soos Jean Laponce in sy gesaghebbende Language and Territories (1987) oortuigend argumenteer is dubbelemedium en parallelmedium “oorgangsvoertale”, wat die pad voorberei vir die dominante taal, soos byvoorbeeld Russies in die ou Sowjet-Unie.
Wat by die een universiteit na die ander in Suid-Afrika gebeur het wat parallelmedium gebruik het, is dat die getalle in die Afrikaanse stroom weens verskeie faktore, waarvan sommige in die Bestuur se dokument genoem word, al kleiner geword het totdat dit eventueel afgeskaf is.
Ons stel voor dat die US wegbeweeg van die beleid om die voertaalbeleid aan markkragte onderhewig te maak en in plaas daarvan ‘n bepaalde voertaalaanbod te maak – soos wat dit tussen 1918 en 2008 gedoen het.
Met Afrikaans wat nou op verskeie ander kampusse onder beleg is, is daar `n goeie kans dat hoërskole in die Wes-Kaap en Noord-Kaap verplig sal voel om al meer na Engelsmedium oor te skakel ten einde hul leerlinge vir Engelsmedium-onderrig op universiteit voor te berei.
Die verengelsing van die US sal die Afrikaanse gemeenskapslewe ondergrawe en weinig help om die agterstand in deelname aan universiteitsonderrig van die bruin Afrikaanse gemeenskap uit te wis. Kultuuroordrag in Afrikaans van die een geslag na die ander sal al minder plaasvind.
“Bewyse” van Engelse voorkeur
Wat is die wetenskaplike waarde van “bewyse” wat dosente veral uit die Fakulteit van Lettere gee vir studente se voertaal voorkeur? Nie veel nie.
Die kernvereistes van enige meningspeiling is dat die respondent oortuig moet wees dat die vraesteller geen persoonlike belang het by die saak nie en dat hy of sy as respondent niks het om met `n eerlike antwoord te verloor nie. Watter student sal `n eerlike antwoord gee as hy of sy weet die dosent se grootste begeerte is om parallelmedium-klasse te vermy?
Enige universiteit wat sy sout werd is, sal dosente verbied om in `n klas `n vraag aan studente te stel oor die voertaalkwessie wat so omstrede geraak het.
Daar bestaan net een meningspeiling wat amptelik deur die Raad aangevra is en wat deur`n professionele firma gedoen is. Dit was die Markdata-ondersoek van 2007-08.
Daarvolgens het 83% van die Afrikaanse studente en 43% van die Engelse studente lesings verkies wat “hoofsaaklik en konsekwent Afrikaans” is. Die redes vir`n oënskynlik swaai na Engels in die afgelope ag jaar word in ‘n meer omvattende memorandum, wat ons ook indien, uiteengesit.
Voorstel
In die plek van die US Bestuur se voorstel, stel ons die volgende voor:
• dat die Raad sy beleid van 2014 herbevestig en konkrete inhoud daaraan gee
• dat die US elke jaar by die inname van eerstejaars 50% van die beskikbare plekke toeken aan studente wat in die Afrikaanse stroom wil studeer en 50 % vir dié wat in die Engelse stroom wil studeer
• voorgraads bly studente in die stroom wat hulle aan die begin gekies het. Sodoende sal die Afrikaanse stroom konstant bly. Baie talentvolle Afrikaanstalige studente sal waarskynlik
gelok word.
Slegs op hierdie manier het Afrikaans `n kans om ‘n vaste, volhoubare en volwaardige plek op dieUS in te neem.