Met die Varsitybeker en Varsity- skild nou iets van die verlede, sal die vier tersiere instellings – Maties, Ikeys, UWK en KSUT – hul fokus verskuif na die klubkompetisies in Superliga A en B van die Westelike Provinsie-rugbyunie.
Ikeys het Maties Maandagaand in die Varsitybekereindstryd met 44-21 ge-klop, terwyl UWK en die Skiereilandse Universiteit van Tegnologie (KSUT) in die halfeindstryde streepsuiker teen onderskeidelik Varsity College en Madibaz gekry het. Varsity College is tans die wenner van die Varsityskild en UWK en KSUT sal weer in die nuwe seisoen moet probeer om die beker in die Kaap te hou. UWK en KSUT het onderskeidelik derde en vierde op die Varsityskild-punteleer geeindig en is nou in aksie in Superliga A en B.
UWK, een van die nuwelinge in Superliga A saam met Van der Stel-Evergreens (VDE), speel Saterdag 26 April teen Valsbaai, terwyl KSUT op dieselfde dag teen Goodwood in Superliga B op die veld sal draf.
Dis net Maties en VDE wat Stellenbosch se vlag in Superliga A sal laat wapper.
Hulle speel die seisoen teen UWK, Ikeys, Villagers, Hamiltons, Durbell, Unimil, Kuilsrivier, St. George’s, Brackenfell, Helderberg, SK-Walmers, Tygerberg en Valsbaai.
Maties het die afgelope naweek vasgeval teen Unimil en met 46-26 verloor, terwyl VDE met St. George’s met 40-11 afgereken het.
In die Superliga B-kompetisie word Stellenbosch en omgewing verteenwoordig deur Franschhoek en Kylemore.
Die Stellenbosse spanne het aan die agterste speen gesuig en het afsonderlik teen Goodwood en NTK (Parow) vasgeval. Goodwood het met 39-33 en NTK met 39-13 gewen.
Hul teenstanders vir die res van die seisoen is Kraaifontein, Macassar, Belhar, Bellville, Primrose, Collegians, Vineyards, Hands & Heart en
Hamediehs.
Ander uitslae:
• Noordelike liga: Corries 28-27 Windmeul, Blue Stars 56-0 Excelsior, La Motte 0-28 Raithby Universals.
• Stadsliga: Blakes 23-20 Blackheath Polisie.