Twee Stellenbosch-polisiespeurders, sers. Roger Jooste en sers. Kalvin Moses, se ondersoekwerk het gehelp om ’n kwaaddoener vir 19 jaar agter tralies te kry.Foto: Yaël Malgas


Die samewerking van klaers en getuies is uiters belangrik vir ’n suksesvolle vervolging.

Dit is die mening van sers. Roger Jooste en sy kollega, sers. Kalvin Moses, wie se speurwerk bygedra het tot die vonnisoplegging van 19 jaar vir Khumbulani Mbali op 22 Mei in die Stellenbosch-landdroshof.

Mbali is in Desember 2021 in hegtenis geneem nadat hy op 10 Desember drie mense tydens Koelenhof-wynkelders se feesvieringe gesteek het. Die onderneming het sy 80ste bestaansjaar gevier en sy jaareindgeselligheid gehou, maar die dag het onverwags in ’n nagmerrie ontaard.

Mbali (toe 22 jaar oud) was voorheen ’n kontrakwerker by dié onderneming en het na afloop van die misdaad verduidelik hy wou die lone hê waarop hy glo gewag het.

Tydens Jooste en Moses se ondersoek het hulle bevind Mbali, van Kraaifontein, het op die dag na die sekuriteitswag geloop, maar dié was glo besig. Die wag was Mbali se eerste slagoffer en is onder meer in sy gesig gesteek voor Mbali die perseel binnegegaan het.

Toevallig was Andrew de Vries, besturende direkteur van Koelenhof, op pad terug na sy kantoor ná ’n toespraak by die feesvieringe. Hier het Mbali op De Vries afgekom en hom begin steek – 15 keer.

’n Derde persoon is met Mbali se mes gesteek toe dié werker De Vries probeer help het. Nog werkers het egter die lawaai gehoor en kom help.

Hulle kon daarin slaag om Mbali op die toneel te hou en hy is dieselfde dag in hegtenis geneem.

De Vries en die ander slagoffers is na die hospitaal gehaas.

De Vries moes sedertdien verskeie operasies ondergaan.

Mbali het geen vorige veroordelings gehad nie, maar het blykbaar drie weke voor die voorval die werkers in die werkswinkel gevra om die einste mes wat op 10 Desember gebruik is, skerp te maak.

Mbali het tereg gestaan op twee aanklagte van poging tot moord en ’n addisionele aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Hy het skuld op al die aanklagte beken.

Mbali is 19 jaar gevangenisstraf opgelê waarvan drie jaar vir vyf jaar opgeskort is. Mbali moet dus 16 jaar tronkstraf uitdien.

Moses sê ’n sleutel tot die sukses van die saak was die goeie samewerking wat hulle van getuies sowel as die klaers ontvang het.

“Die manier hoe almal saam met ons gewerk het, was wonderlik. Wat ook al ons van hulle nodig gehad het, ons het nooit ’n probleem gehad nie,” sê Moses.

Jooste voeg by dit kan soms ’n stryd wees vir die publiek om verklarings af te lê of om in die hof te getuig, maar in die Koelenhof-geval was daar geen sulke probleme nie.

“Soms is dit moeilik wanneer jy met mense se sake werk. Hulle verstaan nie noodwendig die regsproses nie en is nie altyd tevrede met die vonnis nie.”

Moses, wat 14 jaar lank reeds speurder is, sê hulp vanuit die gemeenskap is belangrik.

Jooste is al 19 jaar speurder en sê in baie gevalle is getuies dalk bereid om ’n verklaring af te lê, maar nie hof toe te kom nie. In gevalle waar die getuie ’n verdagte ken, is hy of sy dalk bang om te getuig.

De Vries sê die twee jaar van hofverrigtinge was emosioneel uitputtend, maar is bly daar is nou uitsluitsel.

“Ek het vrede gemaak met die uitkoms. Dit het baie harde werk geverg en hulp van my gesin, die personeel en professionele hulp, maar ek kan nou wat gebeur het agter my sit,” sê De Vries.

Hy is dankbaar teenoor beide die ondersoekspan en die staatsaanklaer wat hard gewerk het om die saak af te handel.

You need to be Logged In to leave a comment.