Sportklubs en lede by die Van der Stel-sportterrein is ongelukkig omdat die Stellenbosch-munisipaliteit dié geriewe wil privatiseer. Hulle beweer dit kan erge gevolge vir sportklubs inhou wat nie kan bekostig om ander geriewe te huur nie.
Die klaers, wat anoniem wil bly, beweer dat die munisipaliteit geensins met die huidige sportklubs en lede by Van der Stel (VDS) oor die plan om ’n tender uit te sit vir ’n private maatskappy om die bestuur van die geriewe oor te neem, gekommunikeer het of hulle die geleentheid gegee het om daarop te reageer nie.
Daar is ook glo nie gekommunikeer oor wat die moontlike impak op huidige lede en sportkodes sal wees nie.
“Die munisipaliteit betrek nie die rolspelers nie. Almal is in die duister oor wat aangaan, en wat die plan is. Dit is tog seker nie demokraties nie?” maak die klaers beswaar.
Die Stellenbosch-munisipaliteit sê egter daar is tans ’n openbare deelnameproses aan die gang en alle rolspelers en inwoners word aangemoedig om op die voorstel kommentaar te lewer.
“Die munisipaliteit se hoofdoel is om te verseker dat die fasiliteite op die mees volhoubare en koste-effektiewe manier bestuur en benut word. Nog geen besluit is geneem nie. Voordat enigiets voor die raad voorgelê word, moet die munisipaliteit ’n openbare deelnameproses volg,” sê Stuart Grobbelaar, munisipale woordvoerder.
“Sportklubs word aangemoedig om hul insette en voorstelle aan ons te stuur as deel van hierdie proses.”
Die klaers sê: “Tot op hede sleep die munisipaliteit sy voete met die plek se instandhouding, tot die plek in sy huidige toestand is – te midde van die alewige gestry om hulp en instandhouding van die klubs, lede en bestuur by VDS – en dit laat dit nou baie belowend lyk om dit te privatiseer. Ons is bekommerd dat private bestuur die klub vir die gemeenskap onbekostigbaar sal maak.
“Dit is immers ’n fasiliteit wat sport vir almal beskikbaar moet maak. Ons is ook bekommerd dat die kleiner en minder bekende sporte en huidige klubs uitgedruk sal word.
“Die armer klubs sal dit nie kan bekostig nie, juis omdat hulle nie geld het nie en ook nie toegang tot die universiteit se geriewe kan bekostig nie.”
Grobbelaar sê egter die bestuur en instandhouding van die munisipale sportfasiliteite vereis toegewyde instandhoudingspersoneel en finansiering om die operasionele lewensvatbaarheid van hierdie fasiliteite te verseker – personeel en geld waaroor die munisipaliteit nie tans beskik nie.
“Die behoorlike instandhouding van die Van der Stel-sportfasiliteit is in die beste belang van die dorp se sportgemeenskap.
“Die bestuur en benutting van die sportfasiliteit as ’n dienssentrum van uitnemendheid deur sport- en sakebedrywe bied die munisipaliteit ’n geleentheid om die Van der Stel-fasiliteit selfonderhoudend te maak wat betref sy instandhoudingsvereistes sowel as bykomende infrastruktuurinvestering.
“ ’n Professioneel bestuurde fasiliteit het die potensiaal om nuwe kliënte en sportsoorte na Stellenbosch te lok.”