Die droom van ’n plaasskool waar kleuters leer terwyl hulle hul harte uitspeel en boonop een is met die natuur, het vir die Vredenheim Akademie aan die begin van die skooljaar ’n werklikheid geword.
Die gewilde Vredenheim-plaas in Baden Powell-rylaan, wat bekend is vir sy wyn, groot katte-park, diertjiepark vir kinders, restaurant en onthaalplekke, is nou ook die tuiste van ’n kleuterskool waar kinders die vryheid van die plaas ten volle geniet.
Die eerste fase van Vredenheim Akademie, ’n onafhanklike skool gebaseer op Christelike waardes, het amptelik op 1 Februarie die deure van sy Byekorf-kleuterskool vir gr. RRR- tot gr. R-kinders geopen.
Die skool, ’n organisasie sonder winsbejag, hoop om in die toekoms tot ’n volwaardige onafhanklike skool met gr. RRR- tot gr. 12-klasse te groei.
Een van die stigters, Elzabé Bezuidenhout, wie se familie sedert 1986 op die plaas tussen Vlottenburg en Stellenbosch boer, sê die droom om ’n plaasskool te open, is byna drie jaar gelede tydens ’n kuier bespreek.
“Stellenbosch is bekend vir sy goeie skole, maar ouers besef al hoe meer dat nie alle kinders in hoofstroomskole goed vaar nie,” sê sy.
“Ons familie wemel tans van die kleinkinders, en my broerskind, Coenraad, het eendag aan my genoem dit sou wonderlik wees om ’n skool hier te open. Ek is iemand wat graag drome nastreef en het onmiddellik die bal aan die rol gesit.”
Die Bezuidenhouts het Solidariteit se Skole-ondersteuningsentrum (SOS), ’n organisasie wat werk om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys deur gehalteonderrig te verseker en in stand te hou én waar nodig nuut te bou, gekontak. Die organisasie het onmiddellik as hulp-vennoot aan boord gekom en dinge het vinnig gebeur. SOS is ook bekend vir sy Wolkskool.
Die Vredenheim-skool volg dus die SOS-kurrikulum, met die uitkomste in vroeëleer-ontwikkelingsareas van die nasionale kurrikulum-raamwerk.
“Die kurrikulum is verrykend en baie meer aanvullend vir die kinders se ontwikkeling,” sê Marietjie Havenga, ’n onderrig- en leerspesialis van SOS.
“Ons fokus op die ses pilare – welstand; identiteit en samehorigheid; kommunikasie; verkenning van wiskunde; kreatiwiteit; en kennis en begrip van die wêreld.”
Die ou slawehuis op Vredenheim is deel van die Herehuisopstal-kompleks en tuine. Hier is ’n ruim klaskamer geskep waar 25 kinders in gemak geakkommodeer kan word. Die klas is toegerus met dinamiese leerruimtes, elk met spesifieke, doelgerigte ruimtes, in pas met die SOS-kurrikulum.
“Die ruimtes maak voorsiening vir individuele en groepsleergeleenthede, en wegbreekruimtes vir fokusaktiwiteite word ook só geskep,” sê Havenga.
“Die buiteruimtes van die skool sluit in veilige speelterreine met klimrame, ’n groentetuin waar kleuters leer en self hul hande vuilmaak, en die gebruik van die groter plaasomgewing, soos die wildplaas en plekke waar plaasdiere gehou word, vir aktiwiteite.”
Die kinders volg ’n weekroetine, wat Bybellees, weer, nuusgebeure, groot metoriese ontwikkeling, multisensoriese leer, ’n hoofaktiwiteit, bak-en-brou, individuele aktiwiteite by stasies, kreatiewe kunste, musiek, storietyd, die leeuloop en speeltyd insluit.
“Leer vind aaneenlopend plaas; speeltyd is ook leertyd, want alles is vir die kinders ’n leerervaring. Ons glo sterk dat kinders ook by mekaar leer en by die self-gerigte stasies leer hoe om in verskillende situasies te reageer. Die kinders word heeldag deur die onderwyser waargeneem en intervensies word deurlopend gedoen om die kind se ontwikkeling in verskeie gebiede aan te wakker. Die onderwyser is te alle tye bewus van elke kind se ontwikkeling en gebruik intervensies om dit te bevorder.”
Bezuidenhout sê hulle beoog ook om vakansiesorg aan te bied. “Ons wil ’n veilige hawe, waar kinders van drie tot sewe jaar oud en nie meer doeke gebruik nie, kan speel en vermaak word terwyl hul ouers werk en skoolvakansies aan die gang is,” verduidelik sy.
As organisasie sonder winsbejag moet Vredenheim Akademie ook geld insamel om operasioneel te bly, sy aanbiedings aan te vul en te groei. ’n Geldinsameling-veldtog begin Donderdag 9 Mei met ’n wynveiling.
“Heerlike boerekos en wyn gaan bedien word en fantastiese artikels sal opgeveil word. Ons nooi almal uit om die geleentheid te ondersteun,” sê Bezuidenhout.
- Stuur ’n e-pos-navraag na akademie@vredenheim.co.za of skakel 083 442 0084 vir meer inligting oor Vredenheim Akademie, sy vakansiesorg of die veiling.