Vyftien vriende het die afgelope naweek die Akker-marathon, ’n alternatief tot die bekende Jonkershoek-marathon, aangedurf en was net betyds vir die laaste ronde drankies by die De Akker-kroeg en restaurant.
Nico de Waal, een van die organiseerders, sê die idee van die Akker-marathon is die geesteskind van Thinus Kruger en die behoefte van ’n groep hardloopvriende wat graag die Jonkershoek-marathon op ’n unieke en meer sosiale manier wou aanpak deur met ’n laaste ronde drankies in De Akker te begin en dit weer met ’n laaste ronde daar af te sluit.
“Die idee om by De Akker te begin, kom weens die feit dat ’n mens baie vroeg in die oggend moet begin om die Jonkershoek-marathon te voltooi. Jy kan dus netsowel met ’n laaste ronde in De Akker begin. Die uitdaging is veel groter met die ekstra 20 km en nog 1 000 m se klim en daal. Die presiese uitdaging van die Akker-marathon is om binne 24 uur met die laaste ronde in De Akker te begin en met die laaste ronde te eindig.
Die oorspronklike Jonkershoek-marathon behels om die “hoefyster” van Bothmaskop tot Stellenbosch-berg te voet te voltooi, verduidelik De Waal. “Dit begin en eindig by die trigonometriese bakens bo-op Bothmaskop en Stellenbosch-berg. Dit behels sewe bergpieke, meer as 30 km in afstand en meer as 3 000 m se vertikale klim. Dit is die eerste keer in 1962 deur drie Matiestudente in 19:30:00 voltooi.”
De Waal sê die Akker-marathon is langer en meer uitdagend as die Jonkershoek-marathon. “Dit behels 50 km en meer as 4 000 m vertikale klim en sluit die bykomende afstand van De Akker na Bothmaskop, die klim van Bothmaskop en die bykomende afstand en daling van Stellenbosch-berg af terug na De Akker in,” voeg hy by.
“Ons was 15 deelnemers, van wie 13 die wedloop voltooi het. Twee het ongelukkig weens krampe en pyne uitgeval.”
Die marathon het Saterdagoggend (9 April) om 01:30 begin toe die klok vir die laaste ronde by De Akker gelui het. Van daar af het die deelnemers na Bothmaskop gehardloop en die berge begin klim. “Die logistieke beplanning het ingesluit om in die donker met kopligte tot by die Pieke te hardloop, waar dit begin lig word het. Dit was belangrik om Rifberg en Katedraal, wat die gevaarlikste gedeeltes is, in daglig aan te pak,” verduidelik De Waal.
Dit het hulle 22:30:00 geneem totdat die hardlopers Sondagoggend (10 April) om middernag – langer as ’n uur voor die laaste ronde – terug by De Akker was.