Jessica Matthews is skielik oorlede nadat sy tydens ’n oefenwedstryd ineengestort het.


’n Matie-hokkiespeler is verlede Woensdagaand (15 Junie) skielik dood nadat sy tydens ’n oefenwedstryd ineengestort het.

Die 18-jarige Jessica Matthews van Somerset-Wes was ’n eerstejaar-dramastudent en doelwagter van die Universiteit Stellenbosch se tweede hokkiespan, Dames Vic.

Matthews is volgens ’n verklaring van die US Woensdagaand by die Meisieskool Herschel tydens ’n oefenwedstryd van die Westelike Provinsie dood. Die US het haar dood as ’n “tragiese heengaan” beskryf.

Anche Nortje, die US se waarnemende sportbestuurder, het gesê Matthews het ná die derde chukka ineengestort.

“Jessica het aan ’n oefenwedstryd tussen WP-o.16-seuns en WP-o.18-meisies by Herschel in die Kaap deelgeneem,” het Nortje gesê.

Nortje wou nie verder uitbrei oor wat tot Matthews se ineenstorting gelei het nie en sê Maties Sport sal Matthews onthou as “doelgerig” en iemand wat “moeite wou doen om haarself op die hokkieveld te verbeter”.

Matthews was ook lief vir die teater en was ’n verhoogaktrise by The Playhouse Theatre in Somerset-Wes. Die teater het in ’n huldeblyk gesê sy was ’n gereelde gesig by The Playhouse.

“Sy was dol oor haar tyd by die teater en sal altyd onthou word vir haar pragtige stem, haar gegiggel, haar ondersteuning aan ander, haar uitstekende akademiese prestasies en topklas-hokkie sowel as vir die feit dat sy ’n goeie vriendin was.”

Dianel Fritz, Matthews se beste vriendin en ’n klasmaat, het aan Eikestadnuus gesê sy was erg ontsteld toe sy die nuus hoor. “Sy het die mooiste siel gehad. Sy het die afgelope paar maande so diep in my hart gekruip dat ek nie kan help om leeg te voel noudat sy weg is nie.”

Volgens Fritz was Matthews altyd beskikbaar om te help.

“Sy was die een mens wat nooit moeg geraak het wanneer ek haar van al my probleme vertel het nie. Sy het ook nooit moeg geraak om my te help met universiteit-werk nie. Sy het dinge letterlik oor en oor verduidelik totdat ek dit verstaan het,” het Fritz bygevoeg en gesê sy sal Matthews as ’n ware “sonneblom” onthou.

Griffin Poole, nog ’n klasmaat, het gesê hy sal altyd Matthews se borrelende energie onthou. “Ek het al ’n hele klomp produksies saam met haar gedoen, en dit was vir my altyd ’n plesier. Sy het gestraal soos die skerpste lig in die donkerste tonnel. Haar energie het ’n manier gehad om die res van ons altyd op te kikker. Sy het altyd met haar hele hart en siel gesing en opgetree.”

Matthews het verlede jaar aan die Rhenish Girls’ High School in Stellenbosch gematrikuleer. Die skool het haar in ’n verklaring as “begaaf met ’n ongelooflike stem, ’n talentvolle musikant en Boland-hokkiespeler” beskryf.

“Ons gedagtes en gebede is by haar ouers, Natalie en Paul, en haar suster, Victoria. Die Rhenish-familie hou julle in die palm van ons hande terwyl julle oor jul liewe Jess treur.”

Intussen het die skool aangekondig dat ’n gedenkdiens hierdie Saterdag (25 Junie) om 11:00 in die Ebenezer-saal gehou sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.