Die uitwerking van die Covid-19-pandemie het verreikende gevolge vir talle organisasies en ondernemings oor die wêreld heen ingehou, en die nadelige naskok daarvan word steeds deur veral gemeenskapsorganisasies ervaar.

Een só ’n organisasie is Geluksoord, ’n tehuis vir verswakte bejaardes in Stellenbosch, wat weens die Covid-19-pandemie die afgelope drie jaar talle finansiële terugslae ervaar het.

Geluksoord is een van die bekostigbaarste palliatiewe versorgingstehuise in die Wes-Kaap en bied holistiese dienste aan inwoners met ’n verskeidenheid behoeftes.

In ’n poging om die tehuis uit die finansiële verknorsing te red, het die Vriende van Geluksoord, ’n groep vroue van Onder-Papegaaiberg en elders, besluit om ’n reeks geldinsamelings­projekte en gesellighede te hou. Die eerste poging is in die vorm van ’n markdag, wat op 22 April by die tehuis in Tarentaallaan, Onder-Papegaaiberg, gehou sal word.

“As vriende van Geluksoord wil ons hierdie ongelooflike organisasie ondersteun en vir die wêreld wys watter uitstekende dienste hulle aan inwoners hier bied. Ons wil ook die wanpersepsie oor die dienste by Geluksoord verander.

“Die inwoners hier kry regtig baie goeie diens en versorging, teen ’n baie bekostigbare tarief, en is nie afgeskeep of vergete nie. Die personeel hier is baie betroubaar en lewer uitsonderlike diens,” sê Elsa Erasmus, een van die organiseerders.

Geluksoord, wat as maatskappy sonder winsoogmerk (nutsmaatskappy) geregistreer is, is geleë aan die voet van Papegaaiberg in ’n veilige landelike omgewing omring deur die natuurskoon eie aan Stellenbosch, naby die sakekern van die dorp, besigheidsentrums en mediese geriewe.

“Die tehuis is ’n keurige tuiste vir verswakte bejaardes en ander chronies verswakte volwassenes. ’n Omvattende diens en verblyf word aan 80 inwoners gebied. Mense wat met demensie en Alzheimer se siekte leef, word in ’n spesiale afdeling versorg,” sê Erasmus.

Sy voeg by dat tydelike versorging gedurende die herstelperiode ná operasies en ernstige siektes ook aangebied word.

Geluksoord bied volle losies met 24 uur omvattende verpleegsorg.

Vir meer inligting oor die markdag of om betrokke te raak by Geluksoord, kontak Elsa Erasmus by 082 661 2943.

You need to be Logged In to leave a comment.