’n Middag van kleinkinders vermaak het jare later Susanna van der Merwe geïnspireer om haar eerste kinderboek, Koerie kies koers, die lig te laat sien.
Uit die venster van hul dubbelverdiepinghuis het Susanna, ’n oud-Stellenbosser, jare lank Oom Atie se posduiwe dopgehou soos hulle verbygevlieg het. Sy het soms gewonder oor dié duiwe, maar dit was nie totdat sy een middag haar kleinkinders moes besig hou dat sy werklik ’n verhaal oor die voëls geskep het nie.
Sy skep toe ’n reistog vir die duiwe, maar dit is eers nou dat sy besluit het om die verhaal neer te pen. “Indien dit nie vir my dogter was wat my so aangemoedig het nie, sou ek dit seker nie geskryf het nie,” meen Susanna. Sy en haar man, Izak, kuier nou juis by hul Stellenbosse kleinkinders.
Hulle boer op die plaas Badsfontein met Merino-skape. Dit was terwyl Izak weg was vir werk dat Susanna begin skryf het.
“Sy het voorheen die geskiedenis van die plaas opgeskryf en dit was hierna dat die kinderboek gekom het,” vertel Izak.
Susanna sê die skryfwerk het net twee dae geneem en sy het die navorsing na die wêreld van posduiwe interessant gevind.
Koerie het dus toe sy vlerke gekry.
Koerie, ’n jong wedvlugduif, en sy eienaar, Adam, maak gereed om ’n 1 400-km-ultramarathon van Pretoria na Stellenbosch aan te durf.
Vele uitdagings en lewenslesse wag egter op dié twee.
Op vriende se aandrang stuur Susanna toe die storie na Marlene Malan se Turksvy Publikasies om Koerie se verhaal te laat publiseer.
Benewens haar kwalifikasie as oud-Afrikaansonderwyse het haar ervaring as ouma van 10 kleinkinders gewis ook gehelp om die kinderverhaal te skep. Izak meen dit was wonderlik om te sien hoe positief die kleinkinders was oor hul ouma se skeppende werk.
Só opgewonde was lesers van Murraysburg in die Karoo waar die egpaar sedert 1979 woon, dat die eerste drukoplaag gevlieg het. “Dit blyk lesers het aanklank gevind, omdat die boek Suid-Afrikaans is en in Afrikaans geskryf is. Baie kinderboeke is internasionaal, wat vertaal is. In dié boek sal lesers van Pretoria, Murraysburg en Stellenbosch hul dorpe herken en selfs Eikestadnuus maak ’n verskyning.” Susanna het reeds die opvolgverhaal neergepen en wag om van haar uitgewers te oor.
Intussen is Koerie kies koers ideaal vir lesers tussen ses en 11 jaar oud.
- Die boek is by Stellenbosch Books te koop.