Geweld onder vroue en kinders beleef ’n toename in Suid-Afrika en die Stellenbosch-gebied is geen uitsondering nie.
Met die veldtog 16 Dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders, wat vandeesweek begin, het Eikestadnuus met ’n slagoffer, wat vir haar lewe vrees, gesels.
Dié Cloetesville-inwoner vertel sy vrees vir haar lewe en dié van haar kind omdat die saak teen haar vermeende aanvallers – ’n groep mans van dieselfde gemeenskap wat haar glo in November 2021 aangeval het – steeds sloer.
Die uitspraak, wat verlede Dinsdag (14 November) vir die slagoffer moontlik die geregtigheid sou bring wat sy vereis, is tydelik tot verdere kennisgewing uitgestel nadat die verdagtes versuim het om in die hof te verskyn.
Gemeenskapslede het buite die Stellenbosch-streekhof aan ’n stille betoging, wat deur die gemeenskapsaktivis Magdalene Blankenberg gereël is, deelgeneem.
Blankenberg, ook ’n inwoner van Cloetesville, staan die slagoffer sedert die voorval by.
“Ons gaan nie langer stilbly oor die goed wat in ons gemeenskap gebeur nie. Genoeg is nou net mooi genoeg; ons is hier om ’n mede-vrou by te staan,” het Blankenberg gesê.
Volgens Blankenberg moet geslagsgebaseerde geweld ’n deurlopende gesprek in gemeenskappe wees en nie net wanneer vroue aangeval word nie.
“Ons kan nie net daaroor praat wanneer ’n vrou aangeval word of wanneer die 16 dae van aktivisme-veldtog aanbreek nie. Dit moet ’n aanhoudende gesprek wees,” het sy beklemtoon. “Ons moet op voorsorg fokus, en dit moet by jongmense begin. Dis tyd dat ons ons jongmense oor hierdie kwessie opvoed.”
Die slagoffer is vermoedelik deur die vermeende aanvallers, wat aan haar bekend is, aangeval toe hulle misluk het om haar jonger broer in die hande te kry. Volgens haar is sy met ’n letsel gelaat waarmee sy haar lewe lank sal moet saamleef.
“My gesig is vir life geskend en dit terwyl ek ’n tienjarige seun nog moet grootmaak. Ek steek elke dag my trane weg sodat hy nie hoef te sien hoe moeilik dit vir my is nie,” het die slagoffer gesê.
Sy voeg by dat sy vir haar lewe en dié van haar kind vrees, omdat die verdagtes steeds in die gemeenskap ronddwaal. “Ek is bang. Ek stap elke oggend vroeg werk toe en kan nie help om agter my te kyk nie. Hulle is nog steeds vry, so ek voel nie veilig nie.”
Sers. Zenobia Sedeman, ’n woordvoerder van die Cloetesville-polisie, het bevestig meer as 220 sake van geslagsgebaseerde geweld is die afgelope jaar in die polisiëringsgebied aangemeld.
Volgens Sedeman is hulp vir slagoffers wel beskikbaar en sy het slagoffers aangemoedig om voorvalle onmiddellik by die polisiekantoor aan te meld. “[Hierdie soort sake] moet so gou as moontlik by die naaste polisiekantoor aangemeld word. Die Cloetesville-polisiekantoor [het ook] ’n eenheid teen geslagsgebaseerde geweld in samewerking met StellSorg,” het sy verduidelik.
Sedeman sê ook ’n maatskaplike werker en geslagsgebaseerdegeweld- assistent staan by die plaaslike polisiekantoor gereed om slagoffers te help en by te staan.
Oor waarom die slagoffer steeds op geregtigheid wag, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) by monde van sy woordvoerder Eric Ntabazilila gesê sake word gereeld om verskeie redes uitgestel.
“Soms word sake uitgestel vir verskillende redes, en baie keer het die staat geen beheer daaroor nie; sulke besluite is onderhewig aan die hof,” het hy verduidelik, en bygevoeg dat die NVG wel geslagsgebaseerdegeweld-sake ernstig opneem.
“Die NGV streef daarna om seker te maak dat sake van geslagsgebaseerde geweld en selfs moord teen vroue voorkeur in howe kry.
“Ons het selfs so ver gegaan om seker te maak dat ons staatsaanklaers in ons howe het wat strategies aangestel is om hierdie sake te behartig,” sê Ntabazilila.
“Geslagsgebaseerde geweld en moord op vroue is ’n prioriteit van die NGV en sal voortaan so wees, aangesien ons onsself daartoe verbind het om ons samelewing van dié plaag te bevry.”
Ntabazalila stem saam dat “die geveg teen die plaag van geslagsgebaseerde geweld teen en moord op vroue” nie net ’n jaarlikse geleentheid is nie, maar wel ’n deurlopende program.
“Die 16 dae van aktivisme-veldtog is slegs ’n program van ’n breër program,” het hy gesê.
Die NGV beplan talle gemeenskapsbesoeke oor die land heen gedurende hierdie veldtog, wat van hierdie Saterdag (25 November) tot Sondag 10 Desember gehou word.