Ongeag die koue winterweer het die organisasie Ruth Women Rising (RWR) ’n suksesvolle program op Jeugdag gehou.
Die dames, tesame met plaaslike buurtwaglede, het sport en ander aktiwiteite in Weltevrede-park met kinders in die buurt gedoen. Die organisasie het ook sop en lekkernye aan die kinders uitgedeel. Die buurtwag het gesorg dat almal veilig is.
“Die dag was baie aangenaam en die kinders het dit baie geniet. Ons is dankbaar vir die vrywilligers wat hul tyd afgestaan het om hierdie dag vir die jongelinge spesiaal te maak,” sê Mellrisha Williams van RWR.
Sy sê RWR sien daarna uit om in die toekoms met rolspelers en gemeenskapsorganisasies hande te vat in toekomstige geleenthede om so die gemeenskap op te bou en te bevorder.