Die vrouespan van Coronations-krieketklub het Sondag (2 Februarie) ’n oortuigende sege oor Brandvlei-krieketklub behaal en is ’n tree nader aan hul doel om as die wenner van Krieket Boland se 50-boulbeurtliga gekroon te word.

Die Pniëllers het in Worcester met sewe paaltjies koning gekraai danksy uitstekende boulwerk wat die toon van die wedstryd aangegee het. Die besoekers het die loot gewen en Brandvlei ingestuur om te kolf – ’n besluit wat vroeg reeds vrugte afgewerp het.

Coronations se boulers het die tuis­span omtrent voor die penne laat rond­staan, en hulle was in die 20ste boul­beurt almal terug in die kleedkamer – vir net 39 lopies. Doni Lin (5/4) het die beste boulvertoning opgedis, en is goed deur Moesia Daniels (2/8) onder­steun.

Op hul beurt het die besoekers slegs 8.3 boulbeurte nodig gehad om die telling te oorskry en het slegs drie paaltjies verloor op pad na ’n bonuspunt-oorwinning (42/3). Chantelle van Schoor (21*) was die topkolwer vir Coronations, wat met dié sege die span se onoorwonne status in die liga gehandhaaf het.

Of die span wel as die liga-kampioen gekroon sal word, hang af van die uitslag van hul wed­stryd teen die vrouespan van die Maties-krieketklub, wat Sondag (9 Februarie) op die Coetzenberg-ovaal gespeel word.

Coronations het ná vyf wedstryde 24 ligapunte – dieselfde as die Worcester United-krieketklub, wat reeds hul sesde en laaste wedstryd gespeel het. ’n Oorwinning oor Maties die komende naweek sal dus die titel as liga-kampioen aan Coronations besorg.

Die wedstryd begin om 10:00.

You need to be Logged In to leave a comment.