Die Idasvallei-sportraad, onder leiding van Rhodes Benting, beoog om vanjaar Vrouedag (Vrydag 9 Augustus) met spesiale sport-feesvieringe te vier.

Vir die eerste keer bied die sportraad ’n weeklange spesiale sportprogram aan en wil die rol wat die vroue vertolk in die sport-gemeenskap asook die breër gemeenskap, beklemtoon. Die feesvieringe word ondersteun deur die Stellenbosch Sport en Rekreasie Assosiasie, sowel as die Stellenbosch Local Football Association.

Sportsoorte op die program sal netbal, hokkie, krieket en sokker insluit.

Die Idasvallei-sportraad is ook besig met ’n insameling van sanitêre produkte met die oog daarop om dié produkte uiteindelik aan plaaslike skole te skenk. Die gemeenskap word genooi om hande met die sportraad te vat vir dié insameling. Deel van die program sal hokkie-klinieke wees.

Vrydag (9 Augustus) sal die groot dag geopen word met spesiale sprekers en kenners. Volgens die sportraad beoog hy om die geleentheid so te posisioneer dat dit op almal se lippe sal bly en ’n positiewe impak op die gemeenskap sal hê. 

Die sportraad nooi ondernemings uit om hul rol vir vroue uit te leef en deel te word van hierdie geleentheid. Vir enige inligting kan Brian Minnis by 084 425 9440 gebel word.

You need to be Logged In to leave a comment.