Legende in die vrugtebedryf, Koos Lötter, is op 29 Oktober 2019 op Stellenbosch in die ouderdom van 92 jaar oud oorlede.
In ’n verklaring het dr Lynn Hoffman, voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) departement hortologie gesê: “Oom Koos se lewenslus sal beslis gemis word, asook sy besonderse passie vir hortologie. Sy plek as ’n jarelange vriend en gewaardeerde kollega is nou leeg. Hy sal egter voortleef in die gedagtes en herinneringe van die baie studente wat hy deur sy leeftyd geïnspireer en vir wie hy ’n mentor was. Baie van hulle beklee vandag prominente en invloedryke posisies in die bedryf.”
Lötter het in 1951 ’n graad in pomologie van die departement hortologie aan die US behaal. In 1968 het hy as dosent na dié departement teruggekeer, waar hy tot en met sy aftrede in 1991 altesaam 23 produktiewe jare deurgebring het.
Vroeër vanjaar het Lötter ’n toekenning van die sagtevrugtebedryf en die Wes-Kaapse departement van landbou ontvang vir sy bydrae, veral tot die uitbouing van die produksie van alternatiewe gewasse.
Sy kennis het van koejawel, vye, kiwivrugte en persimmons tot by lukwarte, kwepers en meer onlangs ook granate gestrek.
Eikestadnuus het vroeër vanjaar ’n breedvoerige onderhoud met Lötter gepubliseer.