Die vrystelling van die slawe op 1 Desember 1834 word van Donderdag 1 tot Saterdag 3 Desember in Pniël met verskeie programme gevier en herdenk.
“Die voorgeslagte van Pniël was hoofsaaklik vrygestelde slawe wat op omliggende plase gewerk het. Ons vereer ons voorgeslagte wat hulle afgesloof het vir wat ons vandag besit en kan geniet in ons mooie vallei. Ons wil ook mense bewus maak dat daar nog steeds hedendaags slawerny plaasvind, hoewel in verskillende vorme, soos byvoorbeeld geslagsgeweld, mensehandel ensovoorts,” sê Janine Myburgh van die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust.
“Op Die Werf by die Pniël-museum, waar die funksies plaasvind (of van waar ’n staptoer Saterdag begin), is daar ’n hele paar monumente soos die Vryheid-monument, die Klokboom, die Slaweklok en die Ubuntu-monument wat ons aan hierdie era herinner.”
Die Vryheid-monument is op 11 September 1993 deur eerw. E. du Plessis onthul ter herinnering aan die vrystelling van slawe op 1 Desember 1838.
“Dit het die kunstenaar Leon di Blique bykans ses maande geneem om twee voëls uit ’n plat stuk plaat te sny, te beitel en te hamer tot die vorm wat dit uiteindelik sou wees. In die beeld is een van die voëls vas aan die klip-voetstuk. Die voëls simboliseer vryheid in gebondenheid; die fontein (water) die plek waar ons mense almal kan kom drink en lewe, en die vlam (vryheidsvlam) brandende hoop en liefde. Die gedagte is dat die monument ons almal sal herinner aan die geweldige opofferings en vernederings wat ons voorgeslagte om ons onthalwe moes trotseer, maar ook die nimmereindigende soeke en strewe na ware vryheid, liefde en hoop.”
Die monument van die Ou Klokboom is in 2003, met die 160-jaar feesvierings, deur eerw. P. Coltman onthul en versinnebeeld die tradisies en karakter van die dorp en sy mense.
“Die vakmanskap van Arthur Williams, wat verantwoordelik was vir die werk, is weer eens stille getuienis van die gehalte vakmanskap van Pniëlers,” het sy gesê.
Die Ou Slaweklok, soos dit algemeen bekend staan onder die inwoners van die dorp, dateer uit die dae van eerw. Georg Wilhelm Stegmann in die 1840’s. In 1938 is ’n nuwe kloktoring langs die kerk gebou met geld wat ingesamel is deur die susters van die kerk. ’n Kraak het in die klok ontstaan toe die tak waaraan die klok gehang het tydens die storm van 1945 gebreek en die klok geval het. Die klok is toe deur Rhodes Fruit Farm (RFF) geruil vir die klok wat tans nog in gebruik is. Hierdie ruiling het vermoedelik in die 1950’s plaasgevind.
Die slaweklok is net gedeeltelik herstel en het vir meer as 50 jaar in ’n kloktoring langs die ou Anglo Amercan Farms-hoofkantore in Groot Drakenstein gehang. Op 24 September 2006 is die oorspronklike slaweklok deur die RFF aan die gemeenskap teruggegee.
Die Ou Slaweklok word voortaan elke jaar op 1 Desember om 12:00 gelui om die vrystelling van slawe in Suid Afrika, en in besonder die slawe wat hierdie gemeenskap gevorm het, te herdenk.
Die Ubuntu-monument, die jongste van die monumente, is opgerig in opdrag van die Nasionale Erfenisraad en is in 2007 deur dr. Kenneth Kaunda onthul. “Dit is sekerlik deels te danke aan ’n ongekende belangstelling in die erfenis van ons dorp en die vallei dat die Nasionale Erfenisraad dit goedgedink het om die jaarlikse geleentheid vir die Ubuntu-toekenning vir erfenis in die vallei te hou en is die Ubuntu-monument vir die geleentheid deur die kerk op die Werf opgerig. Die oprigting van hierdie monument in Pniël het aan ons ’n duidelike plek in die erfenisarena van hierdie land gegee,” het Myburgh gesê.
Môre (Vrydag 2 Desember) word ’n langtafelgesprek oor geskiedenis en verdere navorsing oor slawehandel met belangstellendes en akademici gehou.
Familie en vriende kan daarna uitsien om Saterdag (3 Desember) tydens die Freedom of Slave Walk vanaf Pniël deur Boschendal-plase te stap.
Die vierings vind plaas in samewerking tussen Pniël Congregational kerk, Pniël Erfenis- en Kultuurtrust, Visit Stellenbosch en Boschendal.