Vullis hoop al

Inwoners van Lindida in Idasvallei kla dat die Stellenbosch-munisipaliteit daarmee sloer om hul strate en die onwettige storting daar skoon te maak.

Tyrie Langeveldt staan by ’n hoop vullis wat glo al weke lank daar lê. Foto:

Credit: SYSTEM

Inwoners van Lindida in Idasvallei kla dat die Stellenbosch-munisipaliteit daarmee sloer om hul strate en die onwettige storting daar skoon te maak.

Maar, sê die Stellenbosch-munisipaliteit, onwettige storting is ’n groot probleem wat oor ons land heen, in elke dorp, voorkom en die munisipaliteit kan ongelukkig nie ten alle tye oral wees om onwettige storting te polisieer nie.

“Ons skoonmaakspanne gaan uit na gebiede om onwettige storting op te ruim sodra die munisipaliteit in kennis gestel word van ’n voorval,” sê die munisipale woordvoerder Stuart Grobbelaar.

“Inwoners moet ons asseblief kontak by 021 808 8215/8953/8343 of per e-pos by engineering.services@stellenbosch.gov.za of per die Let’s Fix It WhatsApp-lyn 076 951 0768 om te versoek dat onwettige storting opgeruim word.”

Volgens Tyrie Langeveldt, ’n inwoner, het hy al talle kere die munisipaliteit geraadpleeg om die vullis in die gebied te verwyder, maar hy sê dit val op dowe ore. “Ek het al baie kere uitgereik en aangebied om hande te vat met die munisipaliteit om hierdie probleem op te los, maar hulle wil nie saamwerk nie.

“Ons woon in ’n baie mooi gebied, wat ook baie toeriste lok, maar as ons na ons omgewing kyk, lyk dit baie morsig. Die munisipale werkers kom nie gereeld nie. Hier kom die groot dae ook weer aan, maar ons plek lyk soos ’n varkhok. Die naam-monument by die ingang van Lindida het onlangs gebrand, maar niemand van die munisipaliteit het nog gekom om dit te herstel nie. Het ons dan nie trots in ons gemeenskappe nie?”

Langeveldt sê die strate is vuil en vullis hoop vir weke op. “Dit is asof hulle nie in ons gebied wil kom skoonmaak nie. Hulle sien ook hoe die mense onwettig vullis stort, maar hulle doen niks daaraan nie. Die gebied is omring met kameras, hulle kan mos daarop sien wie die vullis stort en hulle beboet.”

Hy is bereid om hande te vat met die munisipaliteit om ’n veiliger en skoner omgewing te skep.

“Ons moedig mnr. Langeveldt aan om die verwysingsnommers van sy vorige versoeke aan ons te stuur sodat ons terugvoer op elke individuele versoek kan verskaf,” sê Grobbelaar.

Volgens Grobbelaar neem die munisipaliteit graag met die gemeenskap hande om dié probleem op te los en inwoners se samewerking om die wetstoepassers dadelik in kennis te stel, is van uiterse belang.

“Hoe meer inligting ons beheerkamer so gou as moontlik tydens of ná ’n voorval ontvang (voertuig, beskrywing van die mense, registrasienommers, ens.), hoe makliker is dit om hulle dadelik te betrap of op te spoor. Skakel die beheerkamer by 021 808 8999 of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 079 622 4722.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.