Die Devon Place Caltex-vulstasie in Koelenhofweg is Sondagaand omstreeks 22:55 deur vyf mans beroof.


Vyf mans is Maandagoggend op die R300 naby Kuilsrivier in hegtenis geneem nadat hulle die Devon Place Caltex-vulstasie in Koelenhofweg beroof het.

Die rooftog het omstreeks 22:55 die vorige aand (Sondag 7 Augustus) plaasgevind toe die verdagtes in ’n wit Toyota Quantum-taxi by die petrolpompe van die vulstasie stilgehou het.

Volgens kapt. Nathalie Martin, ’n woordvoerder van die plaaslike polisie, het twee van die rowers die winkel binnegegaan, ’n vuurwapen op die kassier gerig en geld geëis. “Een van hulle het die geld wat die petroljoggie deur die winkelvenster aan die kassier gegee het, gegryp en die petroljoggie beveel om in die winkel in te kom.”

Ten tyde van die rooftog het ’n ADT-veiligheidsdiens-bakkie by die vulstasie gestop. Die rowers het die winkel verlaat en reguit na die bakkie gegaan. “Een het die passasiersdeur van die voertuig oopgemaak en die veiligheidswag van sy vuurwapen probeer beroof. Terwyl die bestuurder uit die ADT-bakkie wou klim, het die verdagtes skote afgevuur. Die veiligheidswag het vier skote op die verdagtes afgevuur,” voeg sy by.

Die rowers het in die Quantum-taxi van die toneel af gevlug en in die rigting van Khayamandi, Stellenbosch, gejaag.

Volgens Martin is die Stellenbosch-misdaadvoorkomingslede Maandag omstreeks 04:00 daarvan in kennis gestel dat dieselfde Quantum-taxi wat by die rooftog betrokke was, op die R304-pad gery het. “Die taxi was op pad na Kuilsrivier. Die taktiese taakspan is ontbied vir bystand terwyl die taxi op die R300 gery het. Die taktiese taakspan het die voertuig voorgekeer en die eienaar van die Devon Place-vulstasie gekontak om die inligting te verifieer. Die polisie het bevestig dit is wel die regte Quantum-taxi wat by die rooftog betrokke was. Slegs twee selfone is by die insittendes gevind en deur die polisiebeamptes ingegee. Lede van Stellenbosch-wag en die honde-eenheid het met die suksesvolle inhegtenisneming gehelp,” het Martin gesê.

Die vyf verdagtes is aan die Stellenbosch-polisie oorhandig. Niemand is in die voorvalle beseer nie. Die verdagtes, tussen 26 en 59 jaar oud, het Woensdag (10 Augustus) in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.