Sammy en Mayorie Sales word by hul 50ste huweliksherdenkingpartytie, wat deur hul familie gereël is, verwelkom. Foto: Yaël Malgas


Vyftig jaar van getroude lewe is nie maanskyn en rose nie, maar volgens een Cloetesville-paartjie was dit gewis die moeite werd.

Sammy en Mayorie Sales se familie het Donderdag 28 November hul troudag in Curryweg met ’n ete herdenk. Die erf is mooigemaak met blou en swart ballonne en Mayorie het selfs ’n serp ontvang.

Mayorie (76), toe sy nog Moses was, het saam met haar ouers in Lilliestraat, Idasvallei, gewoon. Sy het op 26 jaar ’n jong Sammy ontmoet. “Ek het amper op die rak gaan sit, want almal het gevra wanneer kry ek ’n man. Toe kom hy van Houtbaai af,” vertel sy.

Sammy (71) is oorspronklik van Houtbaai en het later hier in Pleinstraat gewerk, waar hy sy toekomstige skoonsuster Mary in Botmaskop ontmoet het. Hy het by haar loseer.

“Sy het boodskappe tussen ons twee aangedra en dit het verder my battery opgecharge. Hul broer kon in daardie stadium nog nie bestuur nie, dus het ek die gesin rondgery. Dit was deur die rondry saam met haar dat ons mekaar regtig leer ken het. Vandag kan sy steeds nie bestuur nie – ek ry haar nou nog rond,” verduidelik hy skertsend.

Sammy sê deur die dekades was daar moeilike tye, maar die Here het hul huwelik deurgedra. “Was dit nie vir die Here nie, dan sou hierdie nie gebeur het nie. My niggie het ná sewe maande in haar huwelik omgedraai. Sy wou toe weet wat is ons wenresep. Dit is eenvoudig – skuil by die Here,” meen hy. “Soos die engel vir Elia gesê het –‘Eet. Anders sal die pad vir jou lank word’. Ja, die pad was lank. Daar was tye dat ek wou tou opgooi, maar ons het deurgekom. Ek kan sê ons het by die wenpaal uitgekom.”

Wat is hul raad vir jongeres oor die liefde? “Daardie jare moes jy moeite maak. Indien die kar stukkend was, het ek die trein gevat om haar te kom sien. Soms het ek tot hier gereis en dan was sy nie tuis nie, dan het my gemoed gesak, maar ek het aangehou en aangehou. Daardie jare was daar nie selfone vir vinnig gesels nie. Daar was wel busse en taxi’s, ek dink die taxi was 30 c, en ek het moeite gemaak om tot by haar te kom,” sê Sammy.

Mayorie onthou haar troudag goed – geklee in haar deftige pienk pakkie is sy en ’n 21-jarige Sammy is na die plaaslike hof. “Ek was swanger en my pa het gesê ons móét trou. Ons het toe in die hof getrou. Ek het my doekies ook aangehad, want daardie jare moes jou kop toe wees wanneer jy in die huwelik intree,” vertel sy.

Dit was ’n eenvoudige, tog liefdevolle seremonie. By die huis wou Sammy toe weet wat hulle as deel van die vieringe gaan eet. “Ons het dit nie breed gehad nie, toe besluit ek brood en eier. Daar was nie baie uitgawes nie en ons het nie kans gesien om skuld te maak nie; dit was net eier en brood,” onthou Mayorie.

Kort daarna is die paartjie se enigste seun gebore. Vier dogters het gevolg. Julia Sales (47) is die oudste sedert haar broer weens kanker gesterf het en sê daar was nie ’n beter voorbeeld van ’n huwelik vir haar en haar sibbe nie.

“Ons het in ’n Godvresende huis grootgeword. Oor die opvoeding wat hulle ons gegee het, kan ek net vir die Here dankie sê,” meen sy.

Sammy spot en sê hy weet nie of hy en Mayorie nog 50 jaar van getroude lewe sal deurmaak nie, maar hulle sal probeer.

Sammy en Mayorie Sales saam met hul kleinkinders en agterkleinkinders.Foto: Yaël Malgas

Die Sales-paar met hul dogters Julia, Marilyn en Anneline de lewis. Foto: Yaël Malgas

You need to be Logged In to leave a comment.