Die Franschhoek-polisie sê hy het vyf verdagtes in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n man van Groendal die afgelope Sondag (3 Augustus).

Austin Stevens (28) is glo deur ‘n groep mans ná ‘n onderonsie met messe en pangas aangerand en het by die ingang van sy vriendin, Gevileen Dawuwa (23), se ouerhuis aan sy wonde beswyk. Die voorval het kort ná 15:00 Sondagmiddag plaasgevind.

Volgens wat Dawuwa het die groep mans, wat vermoedelik aan ‘n bendegroep behoort, ook met haar broer, Dian Dawuwa, slaags geraak.

Sy vertel dat Stevens, met wie sy vir meer as twee jaar in ‘n verhouding was, glo deur een van die vermeende bende-lede op die hoek van hul straat gekonfronteer is. ‘n Stryery het toe vermoedelik in ‘n bakleiery ontaard.

Die vermeende bendelid het volgens haar toe sy vriende gaan haal, waarna Stevens so erg aangerand is dat dit tot sy dood gelei het. Sy kon daarin slaag om tot by haar ouers se erf, waar hy gewoon het, te hardloop.

“Hy het nog gelewe. Iemand het gehelp om die bloed te stop totdat die ambulans gekom het,” vertel sy.

Stevens is egter met paramedici se aankoms dood verklaar.

Dawuwa het erken dat Stevens ook deel was van ‘n groepering in die area, maar sê dat hy nooit by geweld betrokke was nie.

Stevens is oorspronklik van Kraaifontein waar die meeste van sy familie glo woon.

Dawuwa se pa, Rudolf, sê die familie sal graag wil sien dat geregtigheid geskied. “Dit is nie die eerste voorval nie. Hierdie groep kom gereeld weg met hierdie tipe dinge. Die polisie kry hulle nooit in die hande nie en daarom doen hulle net wat hulle wil.”

Hy sê een van die vermeende bendelede het glo gedreig het hy [die pa] “volgende is”.

Lt. kol. Frederick Rossouw, stasiebevelvoerder van die Franschhoek-polisie, het bevestig ‘n moordsaak word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article