Nog ’n verdagte kan eersdaags saam met die vier wat verdink word van die dood van Harlene Meyer (49) van Cloetesville, aangekla word.
Francois Cyster, Gerschwin Barends, Marco Cedras en Ralston Oliphant het Dinsdag (9 Julie) in die Stellenbosch-landdroshof in verband met die moord op Meyer verskyn.
Die vier verdagtes het hul borgtogaansoek, wat deur die plaaslike gemeenskap teengestaan is, laat vaar. Gemeenskapslede het met die verdagtes se eerste verskyning gesê hulle wil nie die vier op vrye voet hê nie. ’n Petisie wat die groep se borgtog teenstaan, is opgestel.
Meyer is Woensdagoggend 26 Junie voor werk in kruisvuur in Pinestraat, Cloetesville, getref. Dié ma van drie het op die toneel aan haar wonde beswyk. Volgens inligting het twee groepe mans blykbaar daardie dag op mekaar losgebrand toe Meyer deur dwaalkoeëls getref is. Sy is die afgelope Saterdag deur familie, vriende en die gemeenskap ter ruste gelê.
’n Vyfde verdagte kan saam met die res van Meyer se dood aangekla word.
Meyer se gesin wou nie verdere kommentaar oor die hofverrigtinge lewer nie en het aangevoer die saak moet sy gang gaan.
Die saak is tot Maandag 9 September uitgestel.