Dit was ’n blye dag vir ’n familie van Stellenbosch toe James Fourie jr., ’n vyfdegeslag-Matie en ’n derdegeslag-Dagbreker, Donderdag (8 Desember) sy Bcomm bestuursrek.-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.
James is na sy oupa, die voormalige dekaan van die US se regsfakulteit, vernoem.
James sr. en Marthinus (James jr. se pa) het albei die grade BA LLB LLD aan die US se regsfakulteit verwerf.
“Dit is maar iets in ons bloed. My broer is ’n rekenmeester en my suster het ook ’n BCom-graad. My ouers het ons aangemoedig om te studeer en omdat my pa aan die US verbonde was, kon ons gratis studeer, mits ons deurkom,” sê Marthinus.
“As familie is dit besonders omdat oupa sy kleinseun en naamgenoot se gradeplegtigheid kan bywoon waar hy ook sy grade verwerf het en dekades aan die US verbonde was – eers as lektor, toe professor, en later die langsdienende dekaan van die regsfakulteit.”
Marthinus sê sy pa bly sedert 1970 in Stellenbosch en hy en James was beide in Paul Roos Gimnasium (PRG). “Ons woon ook in Stellenbosch, en James se drie jonger boeties loop ook die PRG- en US-roete.
“Ons noue verbintenis met Stellenbosch en die US is vir ons ’n groot voorreg en ek hoop my kinders se kinders bou op hierdie tradisie voort,” skerts Marthinus.
James sr. het sy doktorsgraad in 1978 verwerf en in 1982 professor geword. Hy was dekaan van 1992 tot 2005 en het Marthinus se LLB-graad in 1992 aan hom toegeken.
James jr. is gekeur om volgende jaar sy honneursgraad te kan voltooi.