Kindersorgprogramdeelnemers wys die pragtige poplappe wat hulle gemaak het as deel van kreatiewe vaardigsheidsleer. Van links is Ilse Samuels, Natasha Jeffreys en Marlene Johnathan. Foto:


Danksy plaaslike finansiering van ’n anonieme skenker het die nie-regeringsorganisasie (NRO) Bergzicht- opleiding en ontwikkeling die sertifisering van vyftien nuwe kinderversorgers gevier nadat hierdie vroue bemagtig is en nou ’n aanwins vir plaaslike kindersorg is.

Studente wat die program voltooi het, het Vrydag 16 September ’n sertifikaat as gekwalifiseerde kinderversorger ontvang.

Beroepsmoontlikhede vir ’n gesertifiseerde kinderversorger sluit in werksposisies as ’n crèche-assistent, ’n dagmoeder, ’n kinderoppasser of selfs ’n au pair.

Die studente sal later vandeesmaand terugkeer vir ’n aanvullende kursus in noodhulp, wat die veiligheid van kinders in ag neem – veral om noodgevalle goed te hanteer en beserings en ongelukke te help voorkom.

Natasha Jeffreys (31) van Wesbank, ’n getroude ma van twee, sê die program maak haar opgewonde om die kennis in haar eie gemeenskap terug te ploeg. “Ek weet nou wie ek is,” sê sy.

Ilse Muller (36) – ook ’n getroude ma van twee – sien ook daarna uit om haar plaasgemeenskap se opvoeding in Vlottenburg na die volgende vlak te neem ná vier swaar jaar weens werkloosheid. Hulle albei is ook baie gretig om hulself verder as Graad R- en Graad 1-“juffrouens” te kwalifiseer.

Bergzicht se 13 weke lange kindersorgprogram is daarop gemik om volwassenes toe te rus om kinders te help groei en ontwikkel. Vroeëkinderontwikkeling vervul ’n baie belangrike rol in die beskerming, opvoeding en ontwikkeling van kinders. Die gehaltesorg wat hulle op ’n jonger ouderdom kry, beïnvloed ook hul ontwikkeling wanneer hulle ouer is.

Een van die meer bemagtigende vaardighede wat kursusgangers geleer word, is die gebruik van herwinbare materiale wat maklik bekombaar is om kreatiewe aktiwiteite mee te doen. Sodoende word omgewingsbewustheid gekweek terwyl dit opvoedkunde kostedoeltreffend maak.

Benita Petersen, opleidingsbestuurder by Bergzicht- opleiding en ontwikkeling, sê hierdie groep Kindersorgprogram-studente is besonders. “Hulle is goeie kommunikeerders danksy die iPower-kursus, en is ’n lekker uiteenlopende groep met ’n liefde vir kreatiwiteit. Al ons opleidingsvennote, waar hulle tans prakties doen, is baie beïndruk.”

Studente is reeds beskikbaar vir plasingsgeleenthede namate hulle nader aan die einde van hulle werksgeïntegreerde leertydperk kom. Werkgewers kan Bergzicht se maatskaplike werker en studente- en ontwikkelingsbestuurder, Nathalie Skippers, by employ@bergzicht.org.za kontak om werksgeleenthede te bespreek

You need to be Logged In to leave a comment.