Per definisie is ’n biblioteek ’n gebou of vertrek waarin boeke bewaar word.
Dit is iets waarin ons plaaslike Pleinstraat-biblioteek gruwelik gefaal het.
Vir jare al spog ek dat ons dorp nog van die min plekke is met biblioteke waarin ouer boeke beskikbaar is en die wêreld vir die gemeenskap oopmaak. Daardie tyd het egter nou tot ’n einde gekom.
Ek wil my diepe teleurstelling uitspreek dat die plek waar ’n mens boeke behoort te kan vind wat nie meer in druk is nie, juis van die boeke ontslae geraak het!
Dit is skokkend dat Africana soos F.A. Venter, Anna M. Louw, Grobbelaar, Karel Schoeman, Dalene Matthee, Karl Kielblock, P.H. Nortje, Mikro en P.J. Schoeman kan verdwyn om leë rakke te laat.
Afrikaans is ’n baie jong taal en ons behoort die klein versameling boeke wat beskikbaar is te koester!
Waar moet ons kinders en nageslag ons taalskatte eendag vind as dit nie meer deur biblioteke bewaar word nie?
Lizelle Rademeyer
Stellenbosch
Die Stellenbosch-munisipalitiet bedryf nege openbare biblioteke in ons munisipale gebied.Ons biblioteekdienste, net soos wat die praktyk is by enige private biblioteek, moet af en toe ontslae raak van ouer boeke wat vervang word met nuwe literatuur asook nuwe eksemplare van ouer literatuur. Hierdie sluit Afrikaanse, Engelse enXhosa-, fiksie- en nie-fiksie- boeke in. Hierdie boeke gaan óf terug na die provinsiale biblioteekdienste van waar dit weer na ander biblioteke in die Wes-Kaap versprei word, óf dit word aan nieregeringsorganisasies of skole geskenk. Afrikaanse boeke word beslis nie verwyder nie. Inteendeel, heelwat Afrikaanse boeke word gereeld van die provinsie aangevra.Ons biblioteekdienste moet maandeliks nuwe bestelvorms aan die provinsie verskaf en hierdie lyste sluit byna altyd nuwe sowel as ouer Afrikaanse titels in, afhangend van wat beskikbaar is en waarna daar ’n groot aanvraag is.Ook belangrik is dat ons biblioteekdienste meer as bereid is om die inwoner by te staan deur ’n spesifieke boek wat hy nie by een tak kan kry nie, te laat inbring van ’n ander tak.Daar is ook heelwat Africana-boeke wat waardevolle Afrikaanse boeke insluit, wat in die biblioteek vir inwoners bewaar word, maar nie op die rakke verskyn nie – juis omdat die munisipaliteit hierdie waardevolle items wil bewaar. Hierdie boeke kan steeds deur enige inwoner gelees of uitgeneem word. – Stellenbosch-munisipaliteit