Die Stellenbosch-poskantoor is nou by winkel nommer 5 by die De Watergracht Oos-gebou op die hoek van Merriman- en Andringastraat.Foto: Angelo Julies


Verwarring oor wat van die talle poskantore in Stellenbosch geword het en waar hulle nou geleë is, het talle inwoners laat kopkrap.

Ná talle navrae oor of ’n poskantoor nog in Stellenbosch bestaan en hoekom die Matieland- en Die Boord-poskantore toe is, het Eikestadnuus ondersoek ingestel.

By navrae het ’n woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Posdienste, Johan Kruger, bevestig dié poskantore moes noodgedwonge sluit omdat die Poskantoor onder geweldig finansiële druk verkeer.

“Dit gaan oor bekostigbaarheid. Die Poskantoor is onder finansiële druk en het ’n program van stapel gestuur om koste te besnoei.”

Die Stellenbosch-poskantoor het einde Oktober vanjaar na ’n nuwe gebou verhuis.

“Die Stellenbosch-poskantoor is nou by winkel nommer 5 by die De Watergracht Oos-gebou op die hoek van Merriman- en Andringastrate. Die Matieland-poskantoor het met die Stellenbosch-poskantoor saamgesmelt.”

Kruger sê die telefoonnommer is 021 883 2233 en pakkies en geregistreerde briewe kan nou by die nuwe perseel afgehaal word.

“Die SASSA-toelaag van R350 kan by supermarkte gekry word, wat beteken die rye by die poskantoor is aansienlik korter en dienste is gouer en meer doeltreffend.

“Die poskantoor gaan voort om die mees bekostigbare posdienste aan te bied met slegs R52,12 vir plaaslike items onder 1 kg asook lae pryse vir internasionale posdienste – ideaal vir die Kerstyd,” voeg Kruger by.

Kruger sê jy kan ook jou Telkom- en munisipale rekeninge en verkeersboetes by die poskantoor betaal.

“Om seker te maak jy kan iets by die poskantoor betaal, soek die Poskantoor se kenteken op jou dokument. As dit daarop verskyn, kan jy dit by die poskantoor betaal.”

You need to be Logged In to leave a comment.