Foto ter illustrasie. Foto: Fre Sonneveld/Unsplash


Inwoners van die Dwarsriviervallei is op soek na antwoorde vir dae lange kragonderbrekings wat dié gemeenskappe gereeld teister.

Gedeeltes van Kylemore is onlangs byna drie dae sonder krag gelaat – slegs weke nadat ander gedeeltes van dieselfde dorp vir ses dae sonder elektrisiteit moes klaarkom. Inwoners van Pniël en Jacobsdal loop glo ook gereeld deur.

Kragtoevoer na die vallei word deur Eskom voorsien.

Dr. Francois Kotze, ’n inwoner van die Capolavoro-landgoed in Kylemore, verduidelik die mees onlangse onderbreking aan kragtoevoer het van Vrydag 19 Januarie om 19:00 tot laatmiddag Maandag 22 Januarie geduur. “Verskeie gedeeltes van die gemeenskap word deur die onderbrekings, wat net ná of voor geskeduleerde beurtkrag voorkom, geraak,” sê hy.

“Die voorvalle word byna onmiddellik by Eskom aangemeld, maar die kommunikasie en terugvoering van die entiteit bestaan byna nie. Jy word net ingelig dat die saak ondersoek word, maar daar is geen verdere kommunikasie nie. So sit en wag jy maar totdat daar weer krag is, of jy meld weer die voorval aan in die hoop dat dit die nodige aandag sal geniet.”

Eikestadnuus het ’n gedetailleerde navraag oor die onlangse voorval en die kragnetwerk in die vallei aan Kyle Cookson, ’n woordvoerder van Eskom in die Wes-Kaap, gerig, maar die meeste vrae is onbeantwoord gelaat.

’n Kort verklaring deur Cookson lui: “Ongeveer 100 huishoudings in dele van Kylemore was oor die naweek sonder kragtoevoer as gevolg van ’n foutiewe kabel by die Capola-substasie. Die krag het Vrydagmiddag uitgeskakel en is omstreeks 16:00 Maandag 22 Januarie herstel. Eskom vra opreg om verskoning vir die ongerief wat veroorsaak is en bedank die kliënte wat geraak is vir hul geduld.”

Volgens Kotze het inwoners verskeie kere ook die Stellenbosch-munisipaliteit om hulp genader, maar hier is hulle glo ook nie juis te hulp gesnel nie. “Die munisipaliteit stel nie belang nie en verwys ons net na Eskom,” voer hy aan.

“Dienslewering deur Eskom en die munisipaliteit bestaan nie. Daar is ’n gebrek aan deursigtigheid en dienslewering. Ons moet die langdurige onderbrekings verduur, maar ons kry nie antwoorde nie. Ons wil weet wat tot die dae lange onderbrekings lei.”

’n Bekommerde inwoner van Pniël het verlede Donderdag (25 Januarie) ’n brief aan rolspelers, insluitend die munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, die burgemeester, adv. Gesie van Deventer, en die Groot Drakenstein-polisie gerig om sy frustrasie oor langdurige kragonderbrekings as gevolg van kabeldiefstal uit te spreek.

“Ons vallei gaan die afgelope tyd gebuk onder erge kabeldiefstal, wat tot 12 uur per dag sonder krag lei. Dit is nieteenstaande ons normale beurtkragskedules,” lui die skrywe.

“Die frustrerende deel is dat hierdie voorvalle blykbaar binne ’n paar weke van mekaar plaasvind, wat duidelik ’n patroon begin vorm. Die laaste paar diefstalle het selfs plaasgevind wanneer daar geen beurtkrag toegepas is nie, waaruit ’n mens net kan aflei dat dit geen klein diefstal is nie en dat een of ander vorm van misdadige sindikaat in ons gebied aan die werk is.”

Hy beweer ook dat voorvalle in die omgewing van die Groot Drakenstein-polisiekantoor plaasvind, baiekeer by dieselfde plek. Die inwoner het verder ’n pleidooi aan die polisie en munisipaliteit gerig om inwoners ’n oplossing te bied.

Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, erken die uitdagings rakende kabeldiefstal in die Dwarsriviervallei, maar verduidelik dat die netwerk-infrastruktuur die eiendom van ’n buur-munisipaliteit of Eskom is.

“Dit is onakkuraat om te beweer dat die munisipaliteit nie proaktiewe maatreëls getref het nie,” sê hy.

“Ons het met die Suider-Afrikaanse Inkomstebeskermingsvereniging geskakel om ’n verhoogde polisieteenwoordigheid in die omgewing van diefstalbrandpunte te verseker. Die diefstalle is ook by die nie-ysterhoudende-diefstalforum op die Kaapse Wynland-klustervergadering aangemeld.”

Grobbelaar voeg by dat die munisipaliteit alle oorhoofse koperlyne in sy infrastruktuur met aluminium, wat geen waarde vir diewe inhou nie, vervang het.

“Hierdie maatreël het bewys dit is doeltreffend om diefstal te verminder. Die Drakenstein-munisipaliteit is tans besig om die kabels in sy infrastruktuur met dieselfde benadering te vervang,” sê hy.

“Alle bekommernisse is onder die aandag van die Vereniging vir Munisipale Elektrisiteitsnutsdienste vir ingryping gebring. Dis belangrik om te erken dat die polisie hulpbronbeperkings in die gesig staar wanneer dit by die patrollering van die lengte van die kabels kom.

“Beide munisipaliteite en die forums werk wel aktief daaraan om ’n volhoubare oplossing vir die diefstalkwessie te vind.”

You need to be Logged In to leave a comment.