Garth Williams, skoolhoof Anton Gordon en oud-skoolhoof Richard Williams.Foto: Yaël Malgas


’n Leerkultuur, integriteit, eienaarskap, goeie maniere en respek.

Hierdie is die waardes van Idasvallei Primêr en is vervat in die skool se Valley of Values, wat op die skool se 83ste verjaarsdag amptelik geopen is.

Hierdie waardes, wat ’n projek van die voormalige hoof Richard Williams was, pronk by die skoolingang.

Die ingang het só sleg gelyk dat besoekers nie besef het dit was die skool se ingang nie, sê Williams.

Hy het toe besluit kleurvolle kolomme met die waardes is nodig, maar dit was geen maklike taak nie.

“Verskeie goedkeurings was nodig en planne vir die herontwerp moes ingedien en dan weer aangepas word,” verduidelik Williams.

Met die hulp van ’n oud-leerder, Garth Williams, is die werk toe begin om die skoolingang ’n nuwe baadjie te gee.

Danksy ondersteuning van die skoolkomitee en die Wes-Kaapse regering is die kleurvolle en rolstoel-vriendelike ingang nou in daaglikse gebruik.

“ ’n Skool behels nie net feite nie. Hier leer ons om gaaf te wees en mekaar te help. Mag ons hierdie waardes uitleef en mag dit dien as ’n herinnering vir die leerders vir hul blink toekoms,” het Williams aangespoor.

Die huidige skoolhoof, Anton Gordon, het Williams bedank vir sy visie en die nalatenskap wat hy met die Valley of Values agtergelaat het.

You need to be Logged In to leave a comment.