Ekonomiese verlangsamings is geneig om siklies te wees. Daarom is dit wys om voorbereid te wees wanneer ’n resessie gebeur. Onthou dat aandele selfs tydens resessies kan presteer – jy moet net weet watter aandele. ’n Finansiële adviseur kan jou help om ’n resessie-bestande beleggingsplan op te bou. Hier is byvoorbeeld drie beleggingskeuses vir ’n resessie-bestande portefeulje.. Kies kern-aandele in defensiewe sektore.
’n Handjievol sektore wat gewoonlik goed vaar ten spyte van markinsinkings, sal steeds groei om beleggers van ’n bestendige opbrengs te voorsien. Oorweeg dit om in sektore soos gesondheidsorg, nutsdienste en verbruikersgoedere te belê waarin besteding sal voortduur ongeag die stand van die ekonomie. . Fokus op aandele met betroubare dividendbetalings.
Dit is ’n goeie idee om maatskappye met lae skuld-tot-ekwiteit-verhoudings en sterk balansstate te soek, met ’n beleid om gereeld dividende uit te keer.
Oorweeg die dividend-aristokrate wat hul dividenduitbetalings oor minstens sewe opeenvolgende jare verhoog het of kon handhaaf. . Belê in edelmetale en kommoditeite wat geneig is om goed te presteer tydens markinsinkings.
Aangesien die vraag na kommoditeite dikwels tydens resessies toeneem, styg hul pryse gewoonlik.
Waarop dit neerkom:
As jy vir die lang termyn belê, behoort ’n dreigende resessie jou nie paniekerig te maak nie.
Dit is beter om by jou langtermyn-beleggingstrategie te hou en jou portefeulje onveranderd te hou as om uit vrees aandele te verkoop nadat hulle geval het. As jy kontant het om te belê, kan jy kyk na resessie-vriendelike sektore en aandele wat al baie jare ’n betroubare dividend betaal – dit is gewoonlik gevestigde maatskappye wat ’n afswaai goed kan trotseer.
Wenke om slim te belê:
As jy onseker is oor hoe om ’n resessie-bestande portefeulje op te bou, kan ’n gekwalifiseerde finansiële adviseur jou help om jou finansiële doelwitte te bereik. ’n Goeie adviseur kan waarde tot jou langtermyn-finansiële beplanning toevoeg om jou in ’n beter posisie te plaas en jou gemoedsrus te gee.
’n Resessie kan ernstige verliese tot gevolg hê.
Dit is hoekom die vertrekpunt van enige beleggingsplan is om jou risiko-aptyt te bepaal. ’n Adviseur sal jou gepaste advies kan gee oor ’n toepaslike batetoewysing en beleggingstrategie vir jou persoonlike risikotoleransie, kapasiteit en persoonlike doelwitte, om jou na die optimale portefeulje vir jou unieke situasie te lei.
Ons herinner u ook weer aan ons gratis aftree-seminaar op 9 Junie in die Paarl.
Die seminaar is gemik op individue wat naby of reeds afgetree is. Stuur asseblief e-pos aan jac@psg.co.za voor of op 2 Junie om jou plek te reserveer.
Lesyl Potgieter, CFP® CA(SA) is ’n welvaartbestuurder by PSG Cecilia Square – Lesyl.Potgieter@psg.co.za
.
Die inligting in hierdie artikel is algemene inligting. Dit is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer (FDV 728).