Op ’n gradeplegtigheid beskryf akademici soms die moeisame proses om ’n PhD te voltooi as ’n “wonderwerk”, maar toe dr. Chris Jurgens, ’n dosent in siviele ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), sy PhD ontvang het, het hy nuwe betekenis aan die frase ’n “wandelende wonderwerk” gegee.
Die trajek van Jurgens se lewe het op Donderdag 9 Februarie 2023 in ’n oogwink verander. Hy was op sy motorfiets op die R44 op pad na Stellenbosch – ’n roete wat hy male sonder tal al gery het. Op dié noodlottige oggend het ’n besoeker van Namibië wat verdwaal het, die pad voor hom onwettige gekruis.
Net toe Jurgens uitswaai om ’n ongeluk te vermy, het die voertuig in dieselfde rigting versnel. Hy het die agterdeur van die motor getref, onmiddellik sy bewussyn verloor en afgryslike beserings opgedoen – skedelbreuk, ernstige bloeding op die brein, ’n gebreekte pols, ’n gebreekte skouer, geskeurde knieligamente en ’n long wat platgeval het.
’n Ongelooflik toevallige reeks gebeure en “wonderwerkers” het sy lewe gered.
’n Reeks wonderwerke
Dat Jurgens die botsing oorleef het, is te danke aan ’n reeks gebeure wat só gunstig op mekaar gevolg het dat dit moeilik is om te glo dit is nie deur ’n hoër mag georkestreer nie. Daarom dat die nadraai van sy ongeluk so ’n groot impak op sy geloof gehad het.
Die eerste mens op die toneel was ’n verpleegster van die nabygeleë LifeShine Wellness Centre, wat Jurgens se hand vasgehou en hom gemaklik gemaak het. Sy het die aandag van verbygaande motoriste getrek. Oomblikke later het ’n oogkundige, wat ook ’n motorfietsryer is, stilgehou. Die verpleegster en oogkundige het noodhulp begin toepas.
Net toe Jurgens se hart ophou klop, kom Ryan Wills, Mediclinic se opleidingsbestuurder vir noodsorg, daar aan. Hy is selde self betrokke by noodbehandeling op ongelukstonele, maar het toevallig daardie dag mediese toerusting wat vir opleiding bedoel was, in sy motor gehad. Wills het met behulp van dié noodhulptoerusting Jurgens se hart weer aan die klop gekry en ’n ambulans ontbied.
Wills en die ER24-paramedikus het in die ambulans ’n asemhalingsbuis ingesit en Jurgens aan ’n ventilator gekoppel. Op pad na die hospitaal het nog ’n ingryping verseker dat Jurgens betyds noodbehandeling sou ontvang. “Terwyl hulle besig was om my te stabiliseer, het my vrou, Alet, my gebel – suiwer toeval. Die ambulansbestuurder het my selfoon geantwoord en verduidelik wat gebeur het. Hy het haar gevra om dadelik na die Mediclinic Vergelegen toe te gaan en solank die nodige vorms te begin invul sodat alles gereed sou wees vir my om opgeneem te word. Toe die ambulans by die hospitaal opdaag, het al die dokters gestaan en wag – gereed in hul teaterklere. Daardie kosbare sekondes het gehelp om my lewe te red.” Dokters het eers ’n noodoperasie uitgevoer om die druk op sy brein te verlig. Daarna het rekonstruktiewe chirurgie op sy knie, gebreekte skouer en arm gevolg. ’n Vergruisde pols wat deur ’n handspesialis as onredbaar beskryf is, is uiteindelik deur ’n ortopediese chirurg se ingryping gered.
“Dit was ongelooflik, die regte mense op die regte tyd . . .”
Die lang pad na herstel
Alet het vir ’n week daagliks hospitaal toe gegaan, onseker of dit die laaste keer sou wees dat sy haar man lewend sou sien. Jurgens het wonderbaarlik deurgetrek, maar die pad na herstel was lank en veeleisend.
Terwyl Jurgens stadig sy fisieke en kognitiewe vermoëns herwin het, het sy gesin om hom laer getrek. Die onderskraging van sy vrou en kinders, sy ouers en peetouers asook die onwrikbare steun van die US-gemeenskap, het ’n belangrike rol in sy rehabilitasie gespeel, benadruk Jurgens.
’n Nuwe lewe
Die ongeluk was ’n “algehele oorbegin” en ’n nodige ingryping, glo Jurgens.
Hoewel die ongeluk byna rampspoedig was, het dit Jurgens ’n grensverskuiwende insig besorg. “Voor die ongeluk het ek met uitstel gesukkel,” erken hy. “My doen-lysies was eindeloos, maar terwyl ek in die hospitaal was het ek gewonder: ‘Wat sou hulle op my grafsteen skryf? Hier lê Chris, ’n gawe ou wat nooit iets klaargemaak het nie?’ Dit is nie wie ek wil wees nie.”
Vasbeslote om te verander, het Jurgens in Julie 2023, net vyf maande ná die ongeluk, na die US teruggekeer. Hy het hom met nuutgevonde ywer daarin verdiep om sy PhD te voltooi wat fokus op tegnologie-aanvaarding in die konstruksiebedryf. “Voor die ongeluk wou ek net my tesis klaarkry,” sê hy. “Nou is ek baie trots op dít wat ek met my navorsing bereik het. Ek het twee keer so hard gewerk om iets te lewer waarop ek werklik trots is. Ek het ook besef dat ek regtig baie, baie lief is vir die Universiteit Stellenbosch. Ek geniet dit om met studente te werk en hulle op hul eie vorderingsreise te help.”
Jurgens het nege maande ná sy ongeluk al sewe mense, wat instrumenteel was in sy oorlewing, gaan besoek om hulle persoonlik te bedank. Hy beplan om aan elkeen van hulle ’n gradeplegtigheidfoto in sy rooi doktorale toga te stuur as ’n blyk van sy waardering.
Hoewel hy dit mis om op sy motorfiets te ry, het hy sy vrou belowe om nooit weer op ’n motorfiets te klim nie. “Sy het my gewaarsku: ‘As jy ooit weer aan ’n motorfiets raak, skei ek van jou!’” lag Jurgens.