Wat beteken hierdie nou?

Wanneer jy deur Pniël en Raithby ry, is dit bykans onmoontlik om die vier groot internasionale kodevlae wat binne twee meter hoë rooi verkeerskegels geplaas is, sowel as wit houthuis-strukture in ’n kraal-formaat en groot rooi slotte, mis te kyk.


Wanneer jy deur Pniël en Raithby ry, is dit bykans onmoontlik om die vier groot internasionale kodevlae wat binne twee meter hoë rooi verkeerskegels geplaas is, sowel as wit houthuis-strukture in ’n kraal-formaat en groot rooi slotte, mis te kyk.

Hierdie installasies, wat vier weke gelede opgerig is, het die inwoners omtrent in rep en roer.

Die twee landkunswerke is ’n voortsetting van die kunstenaar Strijdom van der Merwe en prof. Ronnie Donaldson (fakulteit geografie en omgewingstudie by die Universiteit Stellenbosch) se gentrifikasie-bewusmakingsprojek wat verlede jaar in Jamestown begin is.

Donaldson verduidelik die landkuns in Pniël simboliseer die vier groot internasionale kodevlae – “nee”, “ek verander my rigting”, “hou op om jou bedoelinge deur te voer” en “jy moet stop”. Die rooi verkeerskegels simboliseer uiteraard gevaar.

In Raithby is 18 wit houthuis-strukture in ’n sirkel gegroepeer om ’n kraal te vorm, met drie rooi slotte wat die geslotenheid daarvan verteenwoordig.

Die kraal plaas dus die geslotenheid van die historiese Raithby-gemeenskap en die aanliggende veiligheids-ontwikkelings wat daar plaasvind, langs mekaar. Die installasie is op die terrein van die kerk in Raithby – die simboliese hartklop van beide dié dorpies – opgerig.

Vyf prominente historiese klein nedersettings is binne Stellenbosch se munisipale gebied geleë: Jamestown, Pniël, Kylemore, Raithby en Johannesdal.

“Met die ongekende stedelike groei wat Stellenbosch die afgelope 20 jaar beleef het, word al hoe meer druk in hierdie nedersettings uitgeoefen om te ontwikkel om die oorspoel van kapitaal te huisves,” sê Donaldson.

Volgens hom is al vyf die nedersettings ryp vir herontwikkeling omrede dit al die boksies aftik sodat landelike gentrifikasiekan plaasvind. “Jamestown is reeds in ’n gevorderde fase wat oor die afgelope twee dekades die ontwikkeling van ’n gedesentraliseerde winkelsentrum, aftree-woonbuurt en nog ’n omheinde ontwikkeling gesien het.”

Planne is onlangs, desnieteenstaande die besware van plaaslike belangegroepe, goedgekeur vir ’n derde omheinde ontwikkeling. Donaldson verduidelik die tradisionele vorm van gentrifikasie (losstaande eiendomme wat opgekoop word deur hoërinkomste-“inkommers” wat dit sloop en nuwe huise bou en dan bydra tot die eiendomswaardes van die buurt wat verhoog) speel ’n mindere rol in die dorpies en dat die ontwikkelingsgedrewe gentrifikasie ’n groter nadelige uitwerking op die historiese gemeenskappe sal hê. Laasgenoemde dien dus ook as katalisator vir eersgenoemde om te versnel.

Die fokus in Donaldson se NRF-gefinansierde projek is vanjaar op Pniël en Raithby.

Na afloop van die oprig van die vlae in Pniël was inwoners verward oor die betekenis daarvan. Lilburne Cyster van die Pniël Community Development Forum en die res van die uitvoerende komitee het Donaldson gevra om aan inwoners te kom verduidelik wat die projek behels.

Dinsdaag 10 Mei, desnieteenstaande beurtkrag, was die munisipale gemeenkskapsaal in Pniël propvol inwoners wat hul eie beligting saamgebring en geesdriftig hul vrese gedeel het.

Donaldson het aan die inwoners verduidelik dat gentrifikasie elders in die wêreld in dorpe en stede deur middel van beleidsriglyne en/of verordeninge bestuur word om gentrifikasie-geaffekteerde gemeenskappe te beskerm. Hy het gesê net soos wat die Stellenbosch-munisipaliteit ’n erfenis-oorlegsone (heritage overlay zone) het, net so kan hy ’n gentrifikasie-oorlegsone met sy eie ontwikkeling en ander riglyne spesifiek tot so ’n sone instel.

Pniël is langer as ’n eeu self bestuur voordat dit in 2000 by die Stellenbosch-munisipaliteit geïnkorporeer is. Spreker ná spreker het verwys na hoe vooruitsiende die bestuur van Pniël voor amalgamasie was – in teenstelling met die Stellenbosch-munisipaliteit wat nie na sy behoeftes en vrese omsien nie.

’n Voorstel is geopper dat die gemeenskappe van Pniël, Raithby, Kylemore en Jamestown kollektief proaktief saam moet optree en ook by die Bo-Kaap gaan leer uit die suksesse wat daar bereik is. Die gemeenskaplike stem op die vergadering was duidelik – hulle is nie bereid om te wag vir die navorsingsverslag om in 2023 afgehandel te word nie; hulle wil proaktief wees en aksie neem.

’n Besluit op ’n gesprek met die munisipale bestuur sowel as ’n protesoptog is geneem.

As deel van die doelwitte van die projek werk die medeprojek-spanlede dr. Manfred Spocter (US) en dr. Delia AhGoo (NWU) saam met Donaldson aan die skryf van ’n voorstel vir ’n stel beleidsriglyne wat aan die munisipaliteit voorgelê sal word oor hoe die munisipaliteit moontlik gemeenskappe van gentrifiseer-ryp woonbuurte deur middel van verordeninge kan bevoordeel en beskerm.

Geen munisipaliteit in Suid-Afrika het tans beleidsriglyne oor hoe om gentrifikasie sensitief te bestuur nie, en dit is hul wens en doelwit dat hul voorstelle ernstig opgeneem sal word. ’n Soortgelyke gemeenskapsbyeenkoms vir Raithby volg binnekort.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.