Klink ’n glasie van die allerbeste vanuit die Kaapse Wynlande op Braaidag.

Credit: AlexRaths

Die braaivleisvuur brand, jou vleise staan reg en die bykosse is gemaak – maar wat skink jy vanuit die Wynlande in jou braaivleisglas?

My volledige braai-sessie sluit die hemelse drietal – hoender, lam en bees – in. En aangesien hierdie vleeslike gawes van sulke uiteenlopende geurprofiele is, werk ek noukeurig om die regte wyn vir die regte vleis te kies sodat ek volledige gastronomiese genot kan ervaar en kan toesien dat my gaste hierdie alles deel.

Die braaihoender is vooraf deurnag in peri-peri-sous geweek, wat tydens die braaiproses gereeld oor die hoender gedrup word. Wanneer gaar, reik ek na wyne fris en droog en koel, want my peri-peri is nogal ’n tittelende brander in die mond.

Sauvignon Blanc, yskoud, werk ideaal en ek kies die Diemersdal Eight Rows wat die hoender se geurigheid afwissel met ’n smaak-stort van sitrus, koejawel en appelliefie.

Lamstjops word vir 45 min in suurlemoensap en Worcestersous gelê, en dan op warm kole gebraai totdat die vet kraak-gaar en die vleis binne ligpienk is. Bring my rooi, met elegansie wat die mond vol lê en met sy talmende nasmaak – dis Cabernet Sauvignon, en daar is so baie om van te kies. Ek gaan onbeskaamd vir die grotes – Kanonkop of Meerlust; fluweelsagte wyne met geure van swartvrug ondersteun deur ’n aardse smaak van fynbos en ongeskonde vars grond.

Sirloin (lendeskyf) is my keuse vir steak, met growwe sout gesmeer en baie swart peper oor hom gemaal.

Braai op witwarm kole vir presies twee en ’n half minute aan elke kant. Ek kies ’n soepel Syrah van Kleine Zalze in Stellenbosch wat die geur van goeie vleis aanvul, met ’n mondvol geperste swartbessiesap en sy eie titsel peper-smaak.

  • Emile Joubert is ’n bekende skrywer, wynkonsultant en -kenner.

You need to be Logged In to leave a comment.